Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 September 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Springbokkaptein Siya Kolisi pak die All Blacks met ‘n gekraakte neus in môre se Rugbykampioenskapstoets in Kaapstad. Daar was twyfel oor sy deelname aan die herontmoeting nadat hy beseer is in verlede week se wedstryd op Ellispark, maar hy is gister ingesluit in die opdrafspan. Afrigter Rassie Erasmus sê die mediese raad vir Kolisi was dat hy môre moet speel of aan sy neus moet laat werk en die wedstryd misloop. Hy het besluit sy neusoperasie kan wag, eerder as om nou vir drie weke uit die spel te wees.
Die All Blacks het intussen ‘n beter rekord as die Springbokke in Kaapstad en het sewe van die tien toetse in die Moederstad gewen. Die eerste wedstryd tussen die spanne in Kaapstad was in 1928, wat die All Blacks 13-5 gewen het. Die laaste wedstryd was in 2017 op Nuweland, waar die All Blacks 25-24 gewen het. Môre se wenner palm ook die Vryheidsbeker in wat in 2004 bekendgestel is. Die All Blacks is sedert 2010 die houer daarvan.
# Vervolgens, krieket: Laura Wolvaardt en Marco Jansen is aangewys as vroue- en manspeler van die jaar op Krieket Suid-Afrika se toekennings in Johannesburg. Wolvaardt, kaptein van die Protea-vrouespan, het vyf toekennings ontvang. Dit sluit in eendagkrieket se speler van die jaar en ondersteuners se speler van die jaar. Reeza Hendricks is bekroon as die mans se T20-speler van die jaar en Quinton de Kock as eendagspeler van die jaar. Westelike Provinsie se kolwer, David Bedingham, is aangewys as nuweling én toetsspeler van die jaar.
# Ons maak ‘n draai by tennis: Die wêreld se tweede beste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, kom môre in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen die plaaslike speler Jessica Pegula te staan. Sabalenka, verlede jaar se naaswenner, het die Amerikaner Emma Navarro 6-3, 7-6 geklop en die eerste vrou sedert Serena Williams geword wat twee jaar agtereenvolgens in die eindstryd speel. Pegula het die Tsjeg Karolina Muchova verslaan om haar eerste Grand Slam-eindstryd te haal. Sabalenka sê dit was moeilik, maar sy is verheug om weer in die eindstryd te speel:
# En sluit af met sokker: Portugal se kaptein, Cristiano Ronaldo, het die 900ste doel van sy loopbaan aangeteken in sy land se sege van 2-1 oor Kroasië in die UEFA-Nasiesliga in Lissabon. Dis Ronaldo se eerste doel sedert Junie en verbeter sy internasionale doelerekord tot 131. Die 39-jarige speler het ook op klubvlak doele bygedra vir Sporting Lisbon, Manchester United, Real Madrid, Juventus en sy huidige klub, Al-Nassr. Hy het die meeste doele vir Madrid aangeteken, naamlik 450 in net 438 wedstryde vir die Spaanse reus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….