Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt is rugby: Rassie Erasmus het sewe veranderings aangebring aan die Springbokke se wedstrydgroep vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Kaapstad. Canan Moodie begin op vleuel en Willie le Roux op heelagter. Die nuwe skakelpaar is die skrumskakel Grant Williams, wat die eerste keer dié seisoen in die opdrafspan is, en Handré Pollard. Eben Etzebeth is terug op nommer 4-slot en kaptein Siya Kolisi is fiks en in die beginspan. Die Wêreldbekerwenners Jaden Hendrikse en Lukhanyo Am begin op die bank.
Springbok-vleuel Cheslin Kolbe sê intussen hulle verwag Saterdag ‘n taaier en meer intense kragmeting nadat Suid-Afrika die All Blacks verlede naweek in Johannesburg 31-27 geklop het. Kolbe sê dis belangrik om vinnig te begin, uitvoering akkuraat te doen en by hulle strukture te hou:
# ‘n Kykie na sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, is een van tien doelwagters wat vir die gesogte Yashin-trofee op die Ballon d’Or-toekennings benoem is. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat benoem word vir dié geëerde toekenning. Williams, wat vir Mamelodi Sundowns speel, het in die 2023/24-seisoen die doelhok in 35 van sy 59 wedstryde suksesvol beman. Hy ding mee met die wêreld se voorste doelwagters soos Diogo Costa van FC Porto en Emiliano Martinez van Aston Villa. Die wenners word op 28 Oktober in Parys aangekondig.
# Vervolgens, krieket: Die beroemde Lord’s-stadion in Londen sal volgende jaar die eerste keer die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap aanbied. Die vorige eindstryd is verlede jaar op die Oval in die Britse hoofstad gespeel, toe Australië Indië geklop het. Nege toetslande ding mee om die twee topposisies, wat op 11 Junie in die eindstryd sal speel. Indië is tans boaan die punteleer, gevolg deur Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Suid-Afrika, Sri Lanka, Pakistan en die Wes-Indiese Eilande.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is deur na sy eerste Amerikaanse Ope-halfeindronde nadat hy die Rus Daniil Medvedev verslaan het. Die Italianer speel nou teen die Brit Jack Draper wat die Australiër Alex de Minaur geklop het om sy eerste Grand Slam-halfeindronde te haal. In die vroueafdeling het Jessica Pegula van Amerika verstom toe sy die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, 6-2, 6-4 afgeransel het om haar eerste Grand Slam-halfeindronde te haal. Sy speel nou teen die Tsjeg Karolina Muchova. Pegula is tevrede met haar vertoning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….