Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: SA Rugby beloof daar sal nie weer ‘n geraas tydens die haka wees tydens Saterdag se Rugbykampioenskapstoets tussen die Springbokke en die All Blacks in Kaapstad nie. Nieu-Seeland Rugby het SA Rugby se verskoning aanvaar vir die harde musiek, vuurwerke en ʼn passasiersvliegtuig oor Ellispark terwyl die Kiwi’s verlede naweek hulle tradisionele oorlogsdans uitgevoer het. Die oorsprong van die haka dateer terug tot die All Blacks se toer deur Europa in 1905. Hulpafrigter Jason Ryan sê die Bokke het, soos altyd, die uitdaging gerespekteer.
Die openingsderbies van die Verenigde Rugbykampioenskap waarby Suid-Afrikaanse spanne betrokke is, is intussen tot Februarie en Maart volgende jaar uitgestel om ‘n oorvleueling met die Curriebeker-eindstryd te vermy. Die Stormers sou aanvanklik Saterdag 21 September teen die Bulle in Kaapstad speel en die Haaie sou die Leeus in Durban ontmoet. Die VRK sê hy werk saam met SA Rugby om die datums van die veranderde wedstryde te bevestig.
# Vervolgens, sokker: Mamelodi Sundowns se ervare middelveld-ster, Themba Zwane, sal Bafana Bafana aanvoer in die Afrikabeker- kwalifiseerders teen Uganda en Suid-Soedan. Die gewone kaptein en doelwagter, Ronwen Williams, herstel van ʼn besering. Die nasionale span begin sy kwalifiseringsveldtog Vrydag op die Orlando-stadion teen Uganda en speel Dinsdag ʼn weg-wedstryd teen Suid-Soedan. Bafana se afrigter, Hugo Broos, wil hê die spelers moet opgewasse wees vir die taak:
# ‘n Kykie na atletiek: Die jong naelloopsensasie, Bayanda Walaza, het aanbiedinge van verskeie oorsese universiteite van die hand gewys en sal in Suid-Afrika bly om sy studies en sportloopbaan voort te sit. Hy het sy deurbraak tydens die Olimpiese Spele in Parys gemaak toe hy silwer verower het as deel van die vier-maal-100-meter-aflosspan, en het daarna dubbele goud in die naellope losgeslaan op Wêreld-atletiek se Onder-20-kampioenskap in Peru. Walaza is tans in matriek aan Curro Hazeldean in Pretoria en sal volgende jaar aan die Universiteit van Pretoria begin studeer.
# Ons sluit af met tennis: Die Amerikaner Frances Tiafoe is die tweede keer in drie jaar deur na die halfeindronde van die Amerikaanse Ope nadat Grigor Dimitrov van Bulgarye weens ‘n besering moes handdoek ingooi terwyl Tiafoe voorgeloop het. Hy kom nou teen sy landgenoot Taylor Fritz te staan wat die eerste keer die halfeindronde van ‘n Grand Slam-toernooi gehaal het toe hy Alezander Zverev van Duitsland geklop het. Die vroue-wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka van Belarus, het maklik afgereken met Zheng Qinwen van China, en speel volgende teen die Amerikaner Emma Navarro.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….