Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is vandag eerste aan die beurt: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus sal Donderdag sy groep vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Kaapstad aankondig, en nie vandag soos gewoonlik nie. Kenners wonder of dit ‘n slenter is om Nieu-Seeland aan die raai te hou of omdat hulle nog onseker is oor sekere spankeuses. Daar is onsekerheid oor kaptein Siya Kolisi en die vleuel Kurt-Lee Arendse, wat albei beseer is tydens die eerste toets op Ellispark. Skrumafrigter Daan Human sê al die ander spelers is fiks.
Nieu-Seeland se voorspeler-afrigter, Jason Ryan, sê intussen hulle wil in Kaapstad voortbou op die positiewe aspekte van die eerste toets op Ellispark, wat hulle 27-31 verloor het. Ryan sê hulle kyk na kwessies soos die afname in intensiteit en gebrek aan punte in die laaste kwart van die eerste toets:
# Dis nou tyd vir kieket: Die Wanderers in Johannesburg sal volgende jaar weer die eindstryd van die SA20 aanbied. Dit word op die agtste Febuarie gespeel. Die derde seisoen skop op 9 Januarie af op St Georgepark in Gqeberha wanneer die tweemalige kampioen, Sunrisers Eastern Cape, M-I Cape Town verwelkom, wat spog met die dienste van Engeland se kaptein, Ben Stokes. Die SA20 se kommissaris, Graeme Smith, sê die derde seisoen sal groter en beter wees, en beloof ‘n somer van aksie-belaaide krieket.
# Ons maak ‘n draai by tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, kom in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope teen die Rus Daniil Medvedev te staan. Sinner het die Amerikaner Tommy Paul in skoon stelle uitgeskakel terwyl Medvedev, die enigste oorblywende vorige kampioen, Nuno Borges van Portugal maklik oorrompel het. Alex de Minaur van Australië en Jack Draper van Brittanje is ook deur na die kwarteindronde. In die vroueafdeling het die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, die Rus Liudmilla Samsonova geklop. Sy speel in die kwarteindronde teen die sesde-gekeurde Amerikaner Jessica Pegula.
# Ons sluit af met gholf: Die viermalige Major-kampioen, Rory McIlroy, sê hy wil sy toernooi-program afskaal. Die 35-jarige Noord-Ier sal teen die einde van die jaar 27 toernooie agter die blad hê. Die voormalige wêreld-nommer-een het hierdie seisoen twee keer op die PGA-toer gewen, maar kon nie die ontwykende vyfde Major-sege behaal nie. McIlroy sê hy gaan voortaan probeer om net aan 18 tot 20 toernooie per jaar deel te neem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….