Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons spring weg met swem: Die 21-jarige Pieter Coetzé het silwer gewen in die 50-meter rugslag op die Wêreld-watersportkampioenskap in Singapoer om die byeenkoms met drie medaljes af te sluit. Hy het ook goud verower in die 100-meter rugslag en silwer in die 200-meter rugslag. Die Suid-Afrikaner het nog ‘n Afrika-rekordtyd van 24,17-sekondes aangeteken om die silwer met die Rus Pavel Samusenko te deel, met die Rus Kliment Kolesnikov wat goud gewen het. Coetzé is die tweede Suid-Afrikaner na Roland Schoeman wat drie medaljes op ‘n wêreldkampioenskap wen.
# Rugby: Die uitvoerende hoof van die Britse en Ierse Leeus, Ben Calveley, sê Andy Farrell is die gunsteling om die span weer te lei wanneer hulle in 2029 in Nieu-Seeland gaan toer. Die 50-jarige het die Leeus in Australië tot hulle eerste reeksoorwinning sedert 2013 gelei, maar hulle kon nie skoonskip maak nie toe hulle Saterdag die laaste toets teen die Wallabies in Sydney 22-12 verloor het. Calveley sê Farrell se indrukwekkende rekord sal in oorweging geneem word wanneer hulle met die proses begin om ‘n hoofafrigter te kies.
# Motorsport: Lando Norris het die Hongaarse Grand Prix gewen en sy spanmaat, Oscar Piastri, was tweede. Dit beteken McLaren spog nog ‘n keer hierdie seisoen met die eerste twee plekke. George Russell van Mercedes was derde terwyl Charles Leclerc van Ferrari met vierde plek tevrede moes wees. Fernando Alonso van Aston Martin was vyfde. Norris, wat Piastri se voorsprong in die bestuurderskampioenskap tot nege punte verlaag het voor die Formule Een-somerruskans, sê hy het nog baie werk:
# Sokker: Inter Miami sê kaptein Lionel Messi sal onbepaald op die kantlyn wees ná ʼn geringe spierbesering in sy regterbeen. Die 38-jarige Argentyn het die besering Saterdag opgedoen tydens ʼn Ligabeker-wedstryd teen die Mexikaanse span, Necaxa, in Florida. Die wedstryd het gelykop geëindig met twee-elk. Die klub sê Messi se mediese goedkeuring sal afhang van sy vordering en reaksie op behandeling. Messi loop in die Major League-sokkerseisoen gesamentlik voor met 18 doele, en nege bydraes tot doele in 18 wedstryde.
# En tennis: Die Wimbledon-kampioen, Iga Swiatek van Pole, is die jongste gekeurde wat op die Kanadese Ope in Montreal uitgeskakel is. Die tweede gekeurde het in skoon stelle teen die 19de gekeurde Deen, Clara Tauson, verloor. Die Amerikaner, Madison Keys, is deur na haar agtste kwarteindronde nadat sy met die Tsjeg, Karolina Muchova, afgereken het. In die manstoernooi in Toronto, het die Amerikaner Taylor Fritz die Tsjeg, Jiri Lehecka, naelskraaps geklop terwyl die Deen, Holger Rune, teen Alexei Popyrin van Australië verloor het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….