Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met padwedlope: Vier lede van die Comrades Marathon-vereniging het met onmiddellike ingang bedank. Dit is die voorsitter, Mqondisi Ngcobo, ondervoorsitter Leslie Burnard, en raadslede Kerwin Basson en Pumlani Ntuli. Ngcobo sê die afgelope weke het ‘n tol geëis op die vereniging se lede en hy het empatie met diegene wat die kwessies moes hanteer. Jeff Minnaar is aangestel as tussentydse voorsitter terwyl Peter Proctor as tussentydse ondervoorsitter sal optree tot die jaarvergadering in November gehou word.
# Vervolgens, rugby: Slegs drie rondes bly oor in die Curriebekerkompetisie voor die halfeindstryde. Die Bulle is tans boaan die punteleer, gevolg deur die Leeus en die Cheetahs. Die Haaie is in die vierde plek, gevolg deur die Pumas, Westelike Provinsie, Griekwas en die Griffons. Die Bulle ontvang Griekwas vanaand in Pretoria. Môre speel WP in Kaapstad teen die Haaie en die Cheetahs en die Leeus durf mekaar in Bloemfontein aan. Die Griffons en die Pumas speel Sondag in Welkom.
# Ons maak ‘n draai by krieket: Die heel eerste vrouetoets op die geskiedkundige Lord’s in Londen word in 2026 tussen Engeland en Indië gespeel. Dit sal Engeland se eerste tuistoets wees sedert die reeks om die As in 2023, toe Australië hulle op Trent Bridge verslaan het. Die wedstryd is oor vyf dae gespeel vergeleke met vroue wat gewoonlik vier dae speel. BBC Sport berig egter die duur van die toets op Lord’s moet nog bevestig word. Die beroemde stadion is in 1814 in gebruik geneem en 130 toetse is sedert 1884 daar gespeel.
# ‘n Vinnige draai by motorsport: Die heersende Formule Een-kampioen, Max Verstappen, sê hy is nie oorgerus oor sy vooruitsig om die naweek sy tuis-wedren, die Nederlandse Grand Prix, te wen nie. Die Red Bull-renjaer is 78 punte voor Lando Norris van McLaren in die Bestuurderskampioenskap. Verstappen het elke Nederlandse Grand Prix gewen sedert die wedren in 2021 teruggekeer het. Die 26-jarige jaer, wat Sondag by Zandvoort aan sy 200ste Grand Prix deelneem, sê dit was tot dusver ʼn ongelooflike ervaring:
# Ons sluit af met tennis: Ons Jabeur van Tunisië sukkel met ʼn skouerbesering en het aan die Amerikaanse Ope onttrek. Haar enigste wedstryd op ʼn harde baan hierdie somer was haar nederlaag teen Naomi Osaka van Japan in Toronto. Sy was in 2022 die naaswenner in New York toe Iga Swiatek van Pole gewen het, en was verlede jaar onder die laaste 16. Haar posisie in die trekking gaan nou na die Belg, Elise Mertens, wat in die openingsronde met die Rus, Veronika Kudermetova, kragte meet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….