Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê sy spelers sal fisies en geestelik gereed moet wees vir die twee Rugbykampioenskaps-toetse teen Nieu-Seeland. Hy het ‘n groep van 37 spelers gekies vir die twee uitverkoopte toetse, die 31ste op Ellispark en die ander een ʼn week later in Kaapstad. Steven Kitshoff, Jaden Hendrikse en Canan Moodie is terug. Erasmus sê hulle besef hoe belangrik dit is om alles in hierdie wedstryde te gee en hul hoop lewend te hou om die titel die eerste keer sedert 2019 te wen.
# Die Internasionale Krieketraad het twee kolfblaaie vir die T20-Wêreldbekertoernooi as onbevredigend gegradeer. Dit was die kolfblad vir die eerste twee wedstryde in New York, en vir die Brian Lara-akademie in Tarouba. Die Proteas was betrokke by die eerste kragmeting in New York toe hulle Sri Lanka vir net 77 uitgeboul het, en weer in die halfeindstryd in Tarouba, waar hulle Afganistan tot 56 beperk het. Die kolfblad vir die eindstryd in Bridgetown is baie goed bevind. Indië het Suid-Afrika met sewe lopies verslaan.
# Nou gholf: Die Suid-Afrikaner Ryan van Velzen, wat beskou word as ‘n toekomstige ster, maak sy debuut in die Nedbank-uitdaging by Sun City in Noordwes in Desember. Hy word beskryf as die gesig van ‘n nuwe geslag jong Suid-Afrikaners wat hulle merk wil maak in die beroemde toernooi. Die 22-jarige Van Velzen het gekwalifiseer toe hy verlede seisoen die oorkoepelende merietetoekenning op die Sonskyntoer ingepalm het. Hy sluit aan by sy landgenote Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen in die toernooi met algehele prysgeld van 107-miljoen-rand.
# Nou ‘n kykie na tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is onskuldig verklaar nadat hy twee keer positief getoets het vir die verbode middel clostebol. Die Italianer het in Maart positief getoets op Indian Wells, waar hy die halfeindronde gehaal het, en ʼn toets agt dae later was ook positief. Sinner is voorlopig geskors, maar het suksesvol geappelleer en is toegelaat om verder te speel. Hy sal steeds sy punte en prysgeld van Indian Wells verbeur. Die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap het bevind clostebol het onbedoeld in Sinner se gestel beland toe sy fisioterapeut hom masseer het.
# En, ons sluit af met sokker: Phil Foden en Khadija Shaw van Manchester City is as die Engelse Beroepspelersvereniging se Mans- en Vrouespeler van die Jaar aangewys. Foden het 19 doele in 35 topligawedstryde aangeteken en City het ‘n geskiedkundige vierde agtereenvolgende Premierligatitel ingepalm. Die 23-jarige is die jongste speler om ses ligatitels te verower. Shaw was die voorste doelskopper van die Vroue-superliga, met 21 doele in 18 kragmetings. Cole Palmer van Chelsea is as Jong Speler van die Jaar aangewys, en Manchester United se middelveldspeler Grace Clinton as beste Jong Vrouespeler.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….