Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop vandag af met rugby: Die Springbokke is terug op eie bodem na hulle triomfantelike besoek aan Australië en kom Donderdag in Johannesburg byeen om te begin voorberei vir die twee Rugbykampioenskaps-kragmetings met die All Blacks. Die twee aartsvyande pak mekaar die 31ste op Ellispark en ‘n week later in Kaapstad. Suid-Afrika is tans boaan die punteleer met tien punte na hulle twee bonuspunt-oorwinnings oor die Wallabies, wat nog nie punte het nie. Nieu-Seeland is tweede met vyf punte, en Argentinië derde met vier.
Die afrigter van die Suid-Afrikaanse onder-18-span, James Winstanley, het intussen tien verskuiwings aangebring aan die span wat Ierland geklop het, vir vandag se Internasionale Reekskragmeting met Engeland by die Hoër Jongenskool Paarl. Winstanley sê die veranderings is met opset gemaak sodat almal in die groep ‘n kans kry. Net twee agterspelers is behou – Akha Boqwana as heelagter en Khutadzo Rashivhaga op regtervleuel. Voor kry kaptein Sethu Mnebelele ‘n tweede beginkans, terwyl Riley Norton ook weer opdraf as slot, en Reuben Kruger as nommer agt.
# Vervolgens, gemengde gevegskuns: Dricus du Plessis het amper nege-miljoen-rand in sy sak gesteek na Sondag se verdediging van die UFC-wêreldtitel teen die Nigeries-gebore Nieu-Seelander Izzy Adesanya in Perth, Australië. Die Suid-Afrikaner het nog 750-duisend-rand uit borgskappe verdien. Adesanya het net minder as 18-miljoen-rand gekry, plus borgskappe van 570-duisend-rand. Kenners verduidelik UFC-vegters word ‘n vaste fooi betaal, gegrond op hulle gewildheid en onlangse uitslae, ondanks die uitkoms van ‘n kragmeting. Du Plessis het in Januarie 6,2-miljoen-rand ryker geword nadat hy klaargespeel het die Amerikaner Sean Strickland.
# Ons het ook nuus oor krieket: Engeland het Matthew Potts en Dan Lawrence teruggeroep vir die eerste van drie toetse teen Sri Lanka wat môre op Old Trafford begin. Aanvangskolwer Zak Crawley en kaptein Ben Stokes se beserings het Engeland gedwing om veranderings aan te bring aan die span wat verlede maand skoonskip gemaak het in die reeks van drie toetse teen die Windies. Dit sal naatbouler Potts se eerste toets in meer as ‘n jaar wees. Ollie Pope sal die span aanvoer terwyl Harry Brook as onderkaptein sal waarneem.
# En, ons sluit vandag af met tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het Frances Tiafoe verslaan en die Cincinnati Ope die eerste keer gewen. Die Italianer het die Amerikaner 7-6, 6-2 afgeransel om sy vyfde titel dié seisoen te buit. In die vroueafdeling het Aryna Sabalenka van Belarus haar tweede titel van die jaar en eerste sedert die Australiese Ope opgeraap toe sy Jessica Pegula van Amerika 6-3, 7-5 geklop het. Sinner sê dit gee hom selfvertroue in aanloop tot die Amerikaanse Ope:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….