Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Heel eerste vandag is gemengde gevegskuns: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hulle onderhandel vir ‘n ooreenkoms om Dricus du Plessis se volgende UFC-titelverdedigingsgeveg in Suid-Afrika te hou. Du Plessis het sy middelgewig-wêreldtitel suksesvol verdedig met ‘n oorwinning in die vierde ronde oor die Nigeries-gebore Nieu-Seelander, Israel Adesanya, in Australië. Die departement se woordvoerder, Cassidy Rangata-Jacobs, sê ‘n afvaardiging is na Perth gestuur om die saak met UFC-bestuur te bespreek:
# Vervolgens, krieket: Die Wes-Indiese Eilande gee drie sleutelspelers – Andre Russel, Jason Holder en Alzarri Joseph – ruskans vir die reeks van drie T20-wedstryde teen Suid-Afrika. Die aanvangskolwer Brandon King sal ook die reeks misloop, want hy herstel nog van ‘n sy-besering. Matthew Forde en die veelsydige Fabian Allen, wat die T20-Wêreldbekertoernooi misgeloop het, keer terug. Die hoofafrigter, Daren Sammy, sê hy het volle vertroue in die span wat gekies is. Die eerste T20-kragmeting vind Vrydag in Tarouba in Trinidad en Tobago plaas.
# Ons kom nou by motorsport: Die verdedigende kampioen, Francesco Bagnaia, het ‘n derde agtereenvolgende Oostenrykse Grand Prix gewen en loop weer voor op die MotoGP-punteleer. Die Italianer het Saterdag die snelwedren gewen en daarna in die hoofren koning gekraai om met vyf punte voor te loop in die kampioenskap. Die Spanjaard Jorge Martín, wat die naweek boaan die punteleer afgeskop het, was tweede en die Italianer Enea Bastianini derde. Die Suid-Afrikaner Brad Binder was vyfde. Bagnaia sê hy het alles goed gedoen:
# Laaste aan die beurt is tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, en die Amerikaner Frances Tiafoe sal sake uitspook in die eindstryd van die Cincinnati Ope. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland verslaan en Tiafoe het twee wedstrydpunte afgeweer voor hy die Deen Holger Rune kon klop. In die vroue-afdeling kom die wêreld-nommer-drie, Aryna Sabalenka van Belarus, in die eindstryd teen die Amerikaner Jessica Pegula te staan. Sabalenka het die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, 6-3, 6-3 verslaan terwyl Pegula vir Paula Badosa van Spanje uitgeskakel het.
Carlos Alcaraz van Spanje het intussen om verskoning gevra nadat hy sy raket uit woede stukkend geslaan het tydens ‘n tweederonde-nederlaag teen Gael Monfils. Die huidige Franse Ope- en Wimbledon-kampioen, wat tweede gekeur was, het sy nederlaag van 4-6, 7-6, 6-4 teen die Franse veteraan die “slegste wedstryd” van sy loopbaan genoem. Hy het egter op Instagram om verskoning gevra. Hy berei tans voor vir die Amerikaanse Ope, en sê sy houding was nie goed nie en dit mag nie op ‘n tennisbaan gebeur nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….