Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Die Springbok-agtsteman Elrigh Louw sê hulle verwag ‘n hewige aanslag van Australië in môre se tweede ronde van die Rugby-Kampioenskap in Perth. Die Bokke het die Wallabies verlede naweek in Brisbane 33-7 verniel. Louw is een van vyf spelers wat sy plek in die beginspan behou het, en kry sy tweede kans in die wêreldkampioen se opdrafspan. Hy sê Australië gaan hulle spel opskerp, maar dit is belangrik dat die Bokke net hul beste gee.
# Krieket is volgende aan die beurt: Altesaam 17 paaltjies het getuimel op die eerste dag van die tweede toets tussen Suid-Afrika en die Windies in Georgetown, Guyana. Die snelbouler Shamar Joseph het vyf paaltjies platgetrek en die Proteas is in hulle eerste beurt uitgeboul vir 160. Dane Piedt en Nandré Burger se vennootskap van 63 om die tiende paaltjie het die Proteas laat herstel van 97 vir 9. Die Windies is daarna beperk tot 97 vir sewe. Wiaan Mulder het vier paaltjies geneem:
Die Vroue T20-Wêreldbekertoernooi in Oktober kan intussen in gedrang wees weens politieke onrus in die gasvrouland, Bangladesj. Dit volg nadat die gewese eerste minister, Sheikh Hasina, verlede week na Indië gevlug het na weke van dodelike teen-regeringsbetogings. Die Internasionale Krieketraad sê hy hou die situasie noukeurig dop. Die IKR het Indië intussen gevra om die toernooi oor te neem, maar die land se krieketowerheid het geweier weens die moeson-seisoen en omdat hy volgende jaar die Vroue Eendag-Wêreldbekertoernooi aanbied.
# Nuus van die afgelope Olimpiese Spele: Die Hof vir Arbitrasie in Sport ontken dat hy partydig was toe hy VSA Gimnastiek se appèlaansoek verwerp het teen die Internasionale Gimnastiekfederasie se besluit om die Roemeen Ana Barbosu van vierde na derde plek op te gradeer in die vloer-eindronde vir vroue. Dit het die Amerikaner Jordan Chiles ‘n medalje ontneem. Die hof het Roemenië se betoog gehandhaaf dat die VSA nie binne die voorgeskrewe minuut beswaar gemaak het nie. Die Amerikaanse media beweer die hoof van die hof se appèlpaneel het bande met Roemenië.
# En, ons sluit af met tennis: Die verdedigende kampioen en tweede gekeurde Coco Gauff is uit die Cincinnati Ope nadat sy in drie stelle verloor het teen Yulia Putintseva van Kazakhstan, wat 34ste op die wêreldranglys is. Die telling was 6-4, 2-6, 6-4. Daar was ook oorwinnings vir Paula Badosa van Spanje en die Amerikaner Taylor Townsend. In die mansafdeling het die Duitser Alexander Zverev die eerste speler dié seisoen geword om 50 oorwinnings op ATP-toervlak te behaal toe hy die Rus Karen Khachanov 6-3, 6-2 oorweldig het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….