Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus glo nie vuilspel was die rede vir die een rooi- en vyf geelkaarte wat sy spelers in die afgelope drie toetse gewys is nie, en meen die meeste van die oortredings was net weens swak tegniek. Hy ontken die kaarte was die gevolg van ‘n gebrek aan dissipline, en is nie bekommerd daaroor voor Saterdag se tweede Rugbykampioenskaps-toets teen Australië in Perth nie. Erasmus sê hulle het aan die tegniese kwessies gewerk en sal dit hopelik die naweek regkry.
Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het intussen vier veranderings aan die beginspan gemaak wat Saterdag in die tweede toets op Edenpark in Auckland teen Argentinië te staan kom. Hy het gereageer op die verrassende nederlaag van 38-30 teen die Pumas verlede naweek deur drie agterspelers en ‘n voorspeler te vervang. Will Jordan, Caleb Clarke, Rieko Ioane en Tamaiti Williams is in die opdrafspan terwyl Sam Cane op die reserwebank ingesluit is. Robertson sê hulle moet minder foute maak:
# Olimpiese Spele: Die 18-jarige Bayanda Walaza het sy skoolmaats van die Hoërskool Curro Hazeldean in Pretoria bedank vir hulle ondersteuning terwyl hy sy droom in Parys nagejaag het. Hy het ‘n silwermedalje gewen in die vier-maal-100-meter aflos. Walaza is die jongste Suid-Afrikaanse atleet om ʼn Olimpiese medalje te wen sedert die land in 1992 weer tot internasionale sport toegelaat is. Hy het tydens ʼn verwelkomingseremonie by die skool gesê die aanmoediging wat hy van onderwysers en leerders gekry het, was wonderlik:
# Nou krieket: Suid-Afrika se ster-speler in vanjaar se Onder 19-Wêreldbekertoernooi, Kwena Maphaka, kan sy senior internasionale debuut maak in die reeks van drie T20’s teen die Windies. Hy het 21 paaltjies geneem tydens die toernooi. Die snelbouler is ingesluit in die groep vir die reeks wat later die maand in die Karibiese Eilande begin, terwyl die 29-jarige veelsydige speler van die Dolphins, Jason Smith, ook die eerste keer opgeroep is. Hy speel vir Durban’s Super Giants in die SA20.
# Ons sluit af met netbal: Khanyisa Chawane is die Proteas se nuwe kaptein en Karla Pretorius is onderkaptein. Chawane neem die leierskap oor by Bongi Msomi, wat verlede jaar ná die Wêreldbekertoernooi uitgetree het nadat sy die span sedert 2016 gelei het. Die Proteas het gister met ʼn kamp begin om vir die nuwe seisoen voor te berei. Netbal Suid-Afrika sê Chawane is ʼn ervare speler wat goeie ondervinding en vaardighede na haar nuwe rol bring. Sy is opgewonde oor die nuwe uitdaging:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….