Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus sê hy het nie ‘n gebrek aan respek vir die Wallabies nie. Dit volg nadat hy ‘n heeltemal ander span gekies het vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Perth. Hy het 10 veranderings aangebring aan die opdrafspan wat Australië in Brisbane 33-7 afgeransel het, met kaptein Siya Kolisi en ander ervare spelers wat ruskans kry. Erasmus sê daar is genoeg diepte om te waag met die insluiting van verskeie jong spelers. Hy steun die span om die verwagte heelwat sterker aanslag van die Wallabies af te weer.
Kolisi en die slot Eben Etzebeth gaan intussen die UFC middelgewig-gemengde gevegskunskampioen, Dricus du Plessis, na die kryt vergesel wanneer hy Sondag in Perth teen Israel Adesanya te staan kom. Dit is Du Plessis se eerste titelgeveg sedert hy in Januarie die eerste Suid-Afrikaanse wêreldkampioen geword het toe hy Sean Strickland in Toronto geklop het. Du Plessis sê dit sal ongelooflik lekker wees om Kolisi en Etzebeth by hom te hê.
# Die beste Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet ooit, Tatjana Smith, is oorweldig deur ‘n ruimhartige ondersteuner toe sy en Span Suid-Afrika uit Parys teruggekeer het. ‘n Vrou het haar ‘n 100-rand-noot gegee om sjokolade te koop, gesê sy is lief vir haar en wens sy kon haar meer geld gee. Die twee vroue het saam vir ‘n foto geposeer en Smith het die geskenk met dank aanvaar. Sy het haar twee medaljes in Parys gevoeg by die twee wat sy in Tokio gewen het.
Nigeriese sportbeamptes word intussen beskuldig van onbevoegdheid nadat die land geen medaljes in Parys kon verower nie. Kleiner lande op die vasteland het talle medaljes huis toe geneem, maar die reus van Afrika sit met leë hande die eerste keer sedert die Spele in Londen in 2012. Voormalige en huidige Olimpiërs heht skerp kritiek uitgespreek teenoor die land se sportfederasies en vra nuwe bedelings in organisasies wat volgens hulle sportlui in die steek gelaat het.
# Ons sluit af met krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, is vir die res van die Engelse somer nie beskikbaar nie nadat hy sy linker-agterkniesening tydens The Hundred geskeur het. Die 33-jarige Stokes sal die reeks van drie toetse teen Sri Lanka misloop wat volgende Woensdag begin. Die veelsydige speler beplan om gereed te wees vir Engeland se reeks van drie toetse teen Pakistan in Oktober. Onderkaptein Ollie Pope sal die span in die teen Sri Lanka aanvoer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….