Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Julie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Olimpiese Spele: Die Parlement se portefeuljekomitee vir Sport, Kuns en Kultuur het met waardering kennis geneem van die prysenswaardige vertoning van Span Suid-Afrika in Parys. Die komitee se voorsitter, Joe McGluwa, sê sport bring die mense van die land bymekaar. McCluwa erken ook daar moet nog baie gedoen word om toe te sien atlete kry die nodige ondersteuning om te verseker Suid-Afrika wen nog meer Olimpiese medaljes:
Span Amerika spog met die meeste medaljes in Parys nadat sy vroue-basketbalspan die tuisspan met 67-66 gewen het om met die laaste goud weg te stap. Amerika se 126 medaljes sluit 40 goues, 44 silwer- en 42 bronsmedaljes in. China is tweede met 91 medaljes wat 40 goues insluit, gevolg deur Groot Brittanje, Frankryk en Australië. Suid-Afrika bring ses medaljes huis toe: een goue, drie silwer en twee brons. Die Paralimpiese Spele begin die 28ste van die maand.
VSA Gimnastiek het by die Hof vir Bemiddeling in Sport appèl aangeteken nadat Jordan Chiles van haar bronsmedalje gestroop is wat sy in die vroue se vloer-eindronde gewen het. Dit volg nadat die hof in ‘n appèl deur Ana Barbosu van Roemenië se guns beslis het. Die hof sê Amerika se aanvanklike navraag oor Chiles se telling in die eindronde is ná die spertyd van ‘n minuut ingedien. Die beheerliggaam sê hulle het video-bewyse wat toon die appèl is 13 sekondes voor die spertyd ingedien.
# Vervolgens, krieket: Reën en ʼn indrukwekkende kolfvertoning deur Alick Athanaze het Suid-Afrika van ‘n oorwinning beroof in die eerste toets teen die Wes-Indies in Trinidad. Die Proteas het hul tweede beurt op 173 vir drie gesluit en vir die tuisspan ʼn wenteiken van 298 gestel. Die 25-jarige Athanaze se 92 lopies is ʼn loopbaan-beste, en sy en Jason Holder se vennootskap van 65 lopies om die vyfde paaltjie het die wedstryd onbeslis laat eindig. Dis die eerste onbesliste uitslag in 28 toetse sedert Julie verlede jaar. Die tweede toets begin Donderdag in Guyana.
# En, ons sluit af met gholf: LIV-gholf het Graeme McDowell vir een toernooi geskors en beboet nadat hy ‘n ontstuwingsmiddel gebruik het wat ʼn verbode bestanddeel bevat. Hy sê ‘n erge verstopping het sy slaap benadeel en hy het ʼn generiese Vicks-neussproei gebruik sonder om te besef dis op die lys verbode middels. Die wenner van 2010 se Amerikaanse Ope sê hy is baie spyt hieroor. McDowell sal volgende week se geleentheid in Wes-Virginia misloop, maar mag weer volgende maand in Chicago deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….