Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop vandag af met rugby: Die Springbokke het ‘n splinternuwe skakelpaar vir Saterdag se kragmeting met Australië. Die 34-jarige Cobus Reinach is die skrumskakel en die 22-jarige Sacha Feinberg-Mngomezulu die losskakel. Feinberg-Mngomezulu kry sy eerste kans in die opdrafspan in die openingswedstryd van die Rugby-Kampioenskap in Brisbane. Reinach is opgewonde oor die nuwe vennootskap:
Die Wallabies se agsteman, Harry Wilson, kry die voorry jammer wat die meeste sal ly onder die nuwe reëls in die Rugby-kampioenskap. Dit behels ‘n 30-sekonde tydsbeperking om skrums en lynstane te vorm. Wilson is bly die spel word vinniger gemaak, maar glo dit sal die stutte en die haker swaar tref omdat hulle rieme sal moet neerlê na die skrums. Doelskoppers kry ook net 60-sekondes vir ‘n doel- of strafskop, en die 20-minute rooikaart sal onder sekere omstandighede geld.
# Vervolgens, krieket: Suid-Afrika hervat vandag sy eerste beurt op 45 vir een in die eerste toets teen die Windies in Port of Spain, Trinidad. Slegs 15 boulbeurte kon afgestuur word nadat die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, die loot gewen en besluit het om eerste te kolf. Aiden Markram se paaltjie is platgetrek nadat hy en Tony de Zorzi ‘n aanvangsvennootskap van 43 lopies aangeteken het. De Zorzi staan op 32 en Tristan Stubbs op twee.
# Nou nuus oor die Olimpiese Spele: Suid-Afrika se 400-meter-wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk, en Shaun Maswanganyi kon nie die mans 200-meter-eindronde in Parys haal nie. Van Niekerk het sewende geëindig in sy uitdun, en Maswanganyi vierde in syne. Miranda Coetzee was laaste in die derde uitdun van die 400-meter-halfeind vir vroue. Julia Vincent het gekwalifiseer vir die halfeind van die drie-meter-duik vir vroue, terwyl Hamish Lovemore in kanovaart deurgedring het na die halfeindronde van die mans-enkelkano oor ‘n duisend-meter.
# En, ons sluit af met tennis: Die viermalige kampioen, Rafael Nadal, het aan die Amerikaanse Ope onttrek en sê hy sal nie alles kan gee op Flushing Meadows in New York nie. Die 38-jarige Spanjaard het nie enige spesifieke besering of gesondheidstoestand bevestig nie. Nadal het aan die Olimpiese Spele in Parys deelgeneem en in die tweede ronde van die mans-enkelspel teen Novak Djokovic verloor. Hy het saam met Carlos Alcaraz die kwarteindronde van die mans-dubbelspel gehaal. Hy sê hy beplan om steeds volgende maand aan die Laverbeker-kompetisie in Berlyn deel te neem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….