Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Die beheerliggaam, SANZAAR, het nuwe reëls aangekondig vir die Rugbykampioenskap wat die instelling van 20-minuut-rooikaarte insluit. In sekere gevalle kan ‘n speler wat ʼn rooikaart gekry het, 20 minute later deur ʼn ander speler vervang word. Doelbewuste, gevaarlike vuilspel sal egter ʼn rooikaart bly en die speler mag nie terugkeer of vervang word nie. Nog ʼn nuwe reël is dat skoppers 60 sekondes kry vir ʼn doel- of strafskop. Die toernooi skop Saterdag af wanneer Suid-Afrika in Brisbane teen Australië uitdraf.
# Nou ‘n paar brokkies oor die Olimpiese Spele: Armand Duplantis van Swede het ʼn nuwe wêreld- en Olimpiese rekord van 6,25-meter in die paalspring opgestel in Parys. Hy is die tweede man wat sy paalspring-titel suksesvol verdedig. Dis ook die negende keer dat hy die wêreldrekord verbeter nadat hy die kerf van 6,24-meter oortref het wat hy in April op die Diamantliga-byeenkoms in Xiamen opgestel het. Die Amerikaner Sam Kendricks het silwer gewen en Emmanouil Karalis van Griekeland brons. Duplantis sê hy kan nog nie glo wat hy bereik het nie:
Suid-Afrika se middelafstand-atleet, Prudence Sekgodiso, het laaste geëindig in die 800-meter-eindronde vir vroue. Die 22-jarige, wat aan haar eerste Spele deelgeneem het, het die grootste deel van die wedloop by die voorlopers gebly, maar in die laaste 50 meter teruggesak. Keely Hodgkinson van Brittanje het gewen. Wayde van Niekerk en Shaun Maswanganyi het intussen derde gekom in hul onderskeie uitdunne om te kwalifiseer vir die mans se 200 meter-halfeind. Zakithi Nene en Lythe Pillay het albei ook vir die 400 meter-halfeind vir mans gekwalifiseer.
Die Nasionale Loteryekommissie het volgens berigte op die nippertjie ingegryp om Suid-Afrika se deelname in Parys te ondersteun. Die span vir die Somerspele het 28-miljoen-rand ontvang en die Paralimpiese span 11,5-miljoen-rand. Onder die streng voorwaardes was dat slegs atlete, afrigters en mediese personeel dit kon ontvang en sportadministrateurs of politici se reis- en ander uitgawes nie betaal mag word nie. Volgens Sport24 is die skenking slegs weke voor die begin van die Spele bewillig omdat die beheerliggaam, Saskok, vorige Loteryskenkings verkwis het.
Saskok het intussen nog agt name by Span SA gevoeg vir die Paralimpiese Spele wat die 28ste in Parys begin. Dit sluit die dubbele Grand Slam-rolstoeltenniskampioen Kgothatso Montjane en die para-driekampatleet Kirsty Weir in. Goue-medaljewenners sal 400-duisend-rand ontvang, silwermedaljewenners 200-duisend-rand en bronswenners 75-duisend-rand. Suid-Afrika het op die vorige Paralimpiese Spele in Tokio sewe medaljes opgeraap: vier goues, een silwer en twee brons.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….