Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons fokus vandag uitsluitlik op die Olimpiese Spele: Parys het een van die merkwaardigste Olimpiese 100-meter-naellope ooit aanskou. Noah Lyles het sy eerste Olimpiese goue medalje gewen toe hy die wenstreep in slegs ‘n vyduisendste van ‘n sekonde voor Kishane Thompson van Jamaika oorgesteek het. Die Amerikaner se wentyd was 9,79-sekondes, terwyl ál agt deelnemers binne 0,12 sekondes van die goue medalje geëindig het. Dit was ook die eerte keer dat agt mans onder tien sekondes gehardloop het, wat dit die vinnigste wedloop ooit maak. Lyles sê dit was ongelooflik naelskraap:
Die Suid-Afrikaanse naelloper Akani Simbine het net-net ‘n bronsmedalje misgeloop en vierde geëindig in ‘n nuwe nasionale rekord van 9,82-sekondes. Die Amerikaner Fred Kerley het brons verower. Prudence Sekgodiso van Suid-Afrika het in haar eerste Spele gekwalifiseer vir die eindronde van die 800-meter vir vroue in ‘n tyd van een-minuut-57,5 sekondes.
Die Serwiese tennisspeler Novak Djokovic het Carlos Alcaraz van Spanje 7-6, 7-6 in die mans-enkelspel geklop en sy eerste goue medalje verower op sy vyfde Spele. Die 37-jarige Djokovic is die vyfde speler om die Goue Slam te wen in enkelspel deur al vier Grand Slam-toernooie en die Olimpiese titel te verower. Die ander is Rafael Nadal, Serena Williams, André Agassi en Steffi Graf. Die Italianer Lorenzo Musetti het brons ingepalm. Djokovic sê hy is oorweldig dat hy uiteindelik hierdie prestasie behaal het:
Die Amerikaner Scottie Scheffler het in Parys ‘n laaste ronde van nege-onder 62 aangeteken om die goue medalje in die gholftoernooi vir mans op te raap. Die wêreld se nommer een het vanjaar reeds ses keer op die PGA Toer gewen wat sy tweede Meesters-titel insluit. Die Brit Tommy Fleetwood het silwer gewen en Hideki Matsuyama van Japan brons. Die Suid-Afrikaners Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen was onderskeidelik 16de en 17de.
Die gemengde aflos-driekamp gaan vandag voort nadat die organiseerders die watergehalte van die Seinerivier getoets het. Dit het verlede week veroorsaak dat die mans-driekamp met ‘n dag uitgestel moes word, terwyl die oefenswem vir die gemengde aflos Sondag uitgestel is. België het van die gemengde aflos-driekamp onttrek nadat een van sy atlete siek geword het. Onbevestigde berigte lui Claire Michele wat verlede Woensdag aan die vroue-driekamp deelgeneem het, het siek geword.
En die Britse sesmalige medaljewenner-swemmer, Adam Peaty, het China se oorwinning in die mans vier-maal-100-meter aflos bevraagteken na bewerings van opkikkergebruik. Twee van die wenners, Quin Haiyang en Sun Jiajun, is onder die 23 Chinese swemmers wat positief getoets het vir opkikkers voor die Spele in Tokio, maar kon deelneem nadat bevind is hulle het onwetend ‘n verbode middel ingeneem deur besmette kos. Peaty sê daar is nie enige sin in om te wen as mens dit nie regverdig doen nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….