Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby’s Greatest Rivalry se trofee bestaan uit twee helftes, maar word magneties bymekaar gehou om die unieke band tussen die Springbokke en die All Blacks vas te vang. Die trofee se ontwerp herinner aan ‘n grashalm. Suid-Afrika se helfte het kunswerk op deur Bonolo Chepape, en Nieu-Seeland s’n is versier met Māori-kunselemente, ontwerp deur Kereama Taepa. Die wenner van die reeks van vier toetse sal op 12 September albei helftes ontvang na die laaste toets in Baltimore, Amerika. Indien die reeks gelykop eindig, ontvang elke nasie ʼn helfte.
Nog rugby: Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-speler van die seisoen, Embrose Papier, het twee groot eerbewyse gewen op die Bulle se jaarlikse toekennings. Die Springbok-skrumskakel is aangewys as spelers se Speler van die Jaar en die Senior Waardevolste Speler. Die losvoorspeler Jeandré Rudolph is 2025 se Curriebeker-speler van die Jaar en Voorspeler van die Jaar in die Kampioenebeker. Die vleuel Cheswill Jooste is Nuweling van die Jaar. In die vroue-afdeling het Camelitha Malone van die Bulle Daisies twee toekennings ontvang, onder meer spelers se Speler van die Jaar.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, glo haar span is in staat om vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi vir vroue te kwalifiseer, maar erken die tussenkontinentale uitspeelwedstryde in November gaan ʼn uitdaging wees. Die trekking vind vandag in Zürich, Switserland, plaas, met Suid-Afrika, Ecuador, Papoea-Nieu-Guinee, Chinese Taipei, Oezbekistan en Ghana se name in die hoed. Ellis sê hulle gaan hulle bes doen om die laaste kwalifiseringsronde te haal:
# Tennis: Die wêreld-nommer-24, Tommy Paul, het die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland geklop om die Cincinnati Ope se kwarteindronde gehaal. Die Amerikaner kom nou teen die Italianer Flavio Cobolli te staan, wat die Spanjaard Rafael Jodar verslaan het. In die vroueafdeling het Iga Swiatek van Pole met Diane Parry van Frankryk afgereken om haar vierde agtereenvolgende kwarteindronde in Cincinnati te haal. Sy sal kragte meet met die wêreld-nommer-twee, Elena Rybakina van Kazakstan. Die derde-gekeurde Amerikaner Jessica Pegula het die Roemeen Sorana Cirstea naelskraaps geklop.
En nog tennis: Die omstrede Australiese speler Nick Kyrgios het om verskoning gevra na sy voorlopige skorsing vir ‘n positiewe kokaïen-toets. Die 31-jarige, bekend vir sy gereelde uitbarstings op die baan, was die afgelope paar jaar op die kantlyn weens beserings nadat hy in 2022 Wimbledon se eindstryd gehaal het. Hy het in Oktober 2016 sy hoogste posisie van 13de op die wêreldranglys bereik. Kyrgios sê hy het ‘n groot fout begaan toe hy in Junie positief getoets het vir kokaïen tydens ‘n toernooi in Mallorca, Spanje.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….