Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met swem: Pieter Coetzé van Suid-Afrika is deur na die halfeindronde van die 200-meter-rugslag op die Wêreld-watersport-kampioenskap in Singapoer. Die 21-jarige, wat pas goud in die 100-meter-rugslag gewen het, het in een-minuut 57,11-sekondes gekwalifiseer. Kaylene Corbett het met ‘n kragtige poging die 200-meter borsslag vir vroue in ‘n tyd van twee-minute-25,1-sekondes afgelê – die derde vinnigste in die derde uitdun. Becky Meder en Erin Gallagher kon nie daar in slaag om na die volgende ronde deur te dring in onderskeidelik die 200-meter borsslag en die 100-meter vryslag nie.
# Krieket: Suid-Afrika speel vandag teen Australië in die enigste halfeindstryd van die Wêreldkampioenskap vir Legendes op Edgbaston in Engeland. Die Suid-Afrikaners word aangevoer deur die Proteas se gewese ster-speler, AB de Villiers, wat tot dusver skitterend vaar in die toernooi en in die groepsfase twee agtereenvolgende honderdtalle aangeteken het. Die Proteas is tweede op die punteleer na Pakistan, gevolg deur die Aussies en Indië. Vandag se wenner speel Saterdag in die eindstryd teen Pakistan nadat Indië sy halfeindstryd geboikot het weens die geopolitieke spanning tussen die twee buurlande.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se afrigter, Andy Farrell, het twee veranderings aangebring aan sy opdrafspan vir Saterdag se derde en laaste toets teen Australië in Sydney. Blair Kinghorn vervang James Lowe op linkervleuel, terwyl James Ryan instaan vir Ollie Chessum, wat op die bank is, met ‘n verdeling van ses voorspelers en twee agterspelers. Die Leeus het verlede week die reeks beklink met ‘n naelskraapse sege van 29-26 in Melbourne, maar Farrell se span is vasbeslote om skoonskip te maak met ʼn reeksoorwinning van 3-0.
Australië se uitblinker-losvoorspeler, Rob Valetini, is weens ‘n kuitbesering nie beskikbaar vir die wedstryd nie en word deur Tom Hooper vervang. Taniela Tupou keer terug na die Wallabies se voorry in die plek van die beseerde Allan Alaalatoa. Die skrumskakel Nic White is terug in die span en hy vervang Jake Gordon, terwyl Dylan Pietsch as linkervleuel in die plek van die beseerde Harry Potter gaan diens doen.
# En Wêreldatletiek se raad het nuwe regulasies goedgekeur wat deelname aan die vroue-kategorie in wêreldkompetisies betref. Atlete wat van September af in die vrouekategorie wil deelneem, moet ʼn eenmalige toets vir die SRY-geen ondergaan wat ʼn betroubare aanwyser van biologiese geslag is. Die nuwe regulasies sal die eerste keer toegepas word op die Wêreld-atletiekkampioenskap in Tokio. Wêreld-atletiek se president, Sebastian Coe, sê hulle sal die integriteit van vrouesport beskerm en bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….