Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugbynuus van die Olimpiese Spele: Die Springbok-sewes kan steeds die kwarteindronde haal al het hulle albei groepswedstryde verloor op die eerste dag van die toernooi in Parys. Hulle het 10-5 teen Ierland verloor en daarna 17-5 teen Nieu-Seeland. Die Blitsbokke kan na die uitklopronde deurdring as een van die twee beste geplaasde spanne wat derde in hulle groep eindig. Hulle moet Japan egter vandag oortuigend klop en hoop die ander uitslae tel in hulle guns. Die afrigter, Philip Snyman, sê hulle moet beter speel:
Die swemmer Tatjana Smith, wat Suid-Afrika se goue vrou op die vorige Spele in Tokio was, sê sy is reg om in Parys mee te ding. Span Suid-Afrika kon slegs drie medaljes in Japan opraap en twee daarvan was Smith s’n. Sy het goud gewen in die 200 meter-borsslag en silwer in die 100 meter-borsslag. Die 27-jarige swemmer sê sy hoop om weer Olimpiese sukses te behaal:
Vyftien lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Openbare Orde-afdeling is intussen in Parys ontplooi om te help met wetstoepassing. Die sewe vroue en agt mans het elk meer as tien jaar ondervinding op die gebied. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê sommige van die pligte van die beamptes in Frankryk sluit in skarebeheer in verskillende gebiede en die patrollering van paaie rondom Olimpiese persele:
Kanada het twee van sy sokkerpersoneellede huis toe gestuur na ‘n skandaal oor die gebruik van ‘n hommeltuig om te spioeneer op hulle Nieu-Seelandse teenstanders in die vrouekompetisie. Hulle is die onderbestuurder, Jasmine Mander, en Joseph Lombardi, glo ‘n ongeakkrediteerde ontleder. Nieu-Seeland het ‘n klagte ingedien by die Internasionale Olimpiese Komitee se Integriteitseeneheid, terwyl die Franse polisie die hommeltuigvlieënier aangehou het. Die sokkerbestuurder, Beverly Priestman, het verantwoordelikheid aanvaar vir haar kollegas se optrede en onttrek van vandag se wedstryd teen Nieu-Seeland.
# Laastens, perdesport: Die verklikker wat gewys het hoe die Britse Olimpiese ruiter, Charlotte Dujardin, ‘n perd slaan, sê dit was om die dresseersport te red. Die 39-jarige, met ses Olimpiese medaljes, slaan in ‘n video ‘n perd herhaaldelik oor die bene. Sy het nou aan die Spele onttrek en is ook voorlopig geskors deur die Britse perdrysport. Volgens die vrou wat die video vrygestel het is dit nie lekker om ‘n loopbaan te kelder nie, maar dit gaan oor die mishandeling van perde wat algemeen in die sport voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….