Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Portugal glo vas hulle is sterk genoeg om Suid-Afrika te klop in môre se toets in Bloemfontein – die eerste nog tussen die twee lande. Die Wolwe is bemoedig deur hulle onverwagse oorwinning oor Fidji tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk. Portugal is tans 15de op die wêreldranglys en die wêreldkampioen eerste. Portugal se kaptein, Tomas Appleton, sê die Springbokke het hulle speelstyl beïnvloed en sy span wil die wêreld skok elke keer as hulle speel.
Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap wat deur Stad Kaapstad ondersteun word, word vandag op die Kaapstad- en die Athlone-stadion afgesluit. Die toernooi van 24 wedstryde het die afgelope drie weke plaasgevind. Die Junior Springbokke skop die aksie af wanneer hulle vanmiddag twee-uur met Wallis kragte meet vir die sewende plek. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die kampioenskapswedstryd tussen Frankryk en Engeland begin sewe-uur:
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen, Rafael Nadal, is deur na die kwarteindronde van die Sweedse Ope in Bastad. Die Spanjaard het Cameron Norrie van Brittanje 6-4, 6-4 geklop terwyl hy voorberei vir die Olimpiese Spele in Parys. Nadal en die Argentyn, Mariano Navone, spook sake uit vir ‘n plek in die halfeindronde. Die kwalifiseerder Timofey Skatov van Kazakstan het die derde gekeurde Tallon Griekspoor van Nederland in drie stelle verslaan om sy eerste ATP Toer-kwarteindronde te haal.
# Fietsry: Die Belgiese jaer Victor Campenaerts het van twee ander voorlopers weggebreek om die 18de skof van die Tour de France in te palm. Dit is die 32-jarige lid van die Lotto-Dstny-span se eerste skofoorwinning in die tydren. Tadej Pogacar het sy algehele voorsprong van drie-minute-elf-sekondes behou. Die 25-jarige Sloweniër, wat oor drie dae die wenner van die moordende tydren kan wees, sê hy is steeds vol vertroue:
# En die Olimpiese atlete-dorp in Parys is as ‘n model van lae-koolstofbouwerk beskryf nadat dit gister die eerste besoekers verwelkom het. Dit het nie lugversorging nodig nie, want die temperatuur binne is minstens ses grade laer as buite. Die dorp sal sowat 14-duisend-500 mense tydens die besigste tyd huisves, wat nege-duisend atlete insluit wat van volgende week aan die Spele gaan deelneem. Na die Somer- en Paralimpiese spele gaan die kompleks in huise omskep word waarvan minstens ‘n derde as openbare behuising geoormerk is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….