Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sê die span is besig met voorbereidings vir ‘n moeilike Rugbykampioenskapsveldtog wat op 16 Augustus in Johannesburg teen die Wallabies afskop. Hy het die belangrikheid van die oefenkamp van twee-weke beklemtoon en sê dis noodsaaklik om te verseker dat afrigters, spelers, en die hele bestuurspan belyn en reg is vir die kompetisie. Die Springbokke het die prestige-komopetisie verlede jaar die eerste keer sedert 2019 gewen. Die Bokke beëindig die eerste week van die oefenkamp môre en kom weer Sondag in Johannesburg bymekaar.
Wêreldrugby beloof intussen ‘n groter, omvattender en toegankliker Wêreldbekertoernooi ooit in Australië oor twee jaar. Die toernooi is vergroot van 20 tot 24 spanne, wat opgedeel sal word in ses groepe van vier elk. Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, sê kaartjies sal van Februarie verkoop word en ‘n miljoen sal beskikbaar wees teen die laagste prys van een-duisend-167-rand. Sydney sal die halfeindstryde aanbied, asook die eindstryd op 13 November 2027.
# Krieket: Die veelsydige Mitch Owen kan dalk sy buiging in internasionale eendagkrieket maak nadat hy ingesluit is in Australië se witbal-groepe vir volgende maand se tuis-reeks teen Suid-Afrika. Die 23-jarige Owen het beïndruk in die T20-reeks teen die Windies toe hy 125 lopies aangeteken en twee paaltjies platgetrek het. Die sleutelspelers Travis Head en Josh Hazlewood keer ook terug terwyl Mitchell Starc ‘n blaaskans vat. Mitchell Marsh sal instaan as eendag-kaptein in Pat Cummins se plek.
# Tennis: Agt sterbelaaide spanne is regstreeks ingeskryf vir volgende maand se gemengde-dubbelspelkampioenskap op die Amerikaanse Ope terwyl ses spanne promotorskeuses is. Emma Raducanu en Carlos Alcaraz is een van die promotorskeuses, asook Novak Djokovic en Olga Danilovic. Die tweemalige Grand Slam-gemengde dubbelspelkampioen, Venus Williams, en Reilly Opelka sal voor hul tuisskare deelneem. Die Wimbledon-enkelspelkampioene, Iga Swiatek en Jannik Sinner, is regstreeks ingeskryf saam met hulle onderskeie spanmaats, Casper Ruud en Emma Navarro. Nog twee promotorskeuses sal later aangekondig word.
# En fietsry: Die viermalige Tour de France-wenner, Tadej Pogačar, gaan vanjaar se Vuelta a España in Spanje misloop omdat hy wil rus en voorberei om sy Wêreldkampioenskaps-titel vir padwedrenne te verdedig. Die 26-jarige Sloween het Sondag sy vierde Tour-titel opgeraap. Die Vuelta is die enigste een van die drie Grand Tours wat Pogačar nog nie gewen het nie. Hy beplan om middel-September weer mee te ding in die Kanadese eendagwedrenne in Quebec en Montreal voordat die Wêreldkampioenskap ʼn week later in Rwanda begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….