Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbokke bly die wêreld se nommer een-span al het die reeks teen Ierland gelykop geëindig. ‘n Oorwinning van 25-24 danksy ‘n skepdoel in die doodsnikke vir die tweede-beste span, Ierland, in Durban het die toetsreeks gelykop laat eindig nadat die Bokke die eerste kragmeting in Pretoria met sewe punte gewen het. Die Springbokke is met 1,75-ranglyspunte gestraf na die nederlaag op Kingspark, maar is steeds voor Ierland, wat 1,75-ranglyspunte bygekry het weens die oorwinning.
# Olimpiese Spele: Die African Transformation Movement vra die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, om dringend by die Luxolo Adams-saak in te gryp. Die naelloper dreig met regsoptrede teen Atletiek Suid-Afrika nadat hy uitgelaat is uit die Suid-Afrikaanse span vir die Spele in Parys. Dit het gebeur nadat Wayde van Niekerk besluit het om nie aan die 400-meter deel te neem nie, maar eerder op die 200-meter en aflosse te fokus. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê Adams word onregverdig behandel:
# Nou tennis: Die Suid-Afrikaner Kgothatso Montjane en Yui Kamiji van Japan het hul eerste Wimbledon-vrouerolstoel-dubbelspeltitel gewen. Die paar, wat verlede jaar in die eindstryd verloor het, het die Nederlandse span Diede de Groot en Jiske Griffioen 6-4, 6-4 verslaan. Dit is Montjane en Kamiji se derde Grand Slam-dubbelsteltitel saam, nadat hulle die Franse en Amerikaanse Ope gewen het. Montjane sê om dié titel te wen is besonders:
Carlos Alcaraz van Spanje het intussen sy titel suksesvol verdedig en sy vierde Grand Slam-titel verower. Die 21-jarige Alcaraz het die sewemalige kampioen Novak Djokovic van Serwië in skoon stelle verslaan en sluit aan by ‘n groep van net ses spelers wat in dieselfde jaar op Roland Garros én Wimbledon kon wen. Die 24-malige Major-wenner Djokovic het probeer om die alleen-rekordhouer van die meeste Grand Slam-enkelspeltitels te wees. Alcaraz sê dit was ʼn droom om weer op Wimbledon te wen:
# En, ons sluit af met sokker: Spanje het Engeland twee-een geklop om die Europese Kampioenskap ‘n ongekende vierde keer in te palm. Mikel Oyarzabal het in die 86ste minuut die wendoel aangeteken nadat die plaasvervanger Cole Palmer die telling gelyk gemaak het na Nico Williams se eerste doel vir Spanje. Spanje het al sewe wedstryde in die toernooi gewen, terwyl Engeland die eerste span is om twee agtereenvolgende eindstryde te verloor. Engeland se bestuurder, Gareth Southgate, sê hy is teen die grond, maar steeds uiters trots op sy spelers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….