Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Hoofafrigter Andy Farrell het vier veranderings aangebring aan Ierland se opdrafspan vir môre se tweede toets teen Suid-Afrika in Durban. Garry Ringrose speel in die middelveld en die skakelpaar is albei van Munster, met Conor Murray op skrumskakel wat aansluit by losskakel Jack Crowley. Tadgh Beirne verskuif na toekant-flank, James Ryan begin op slot en Rónan Kelleher is die haker. Kelleher glo vas hulle kan wen om die reeks gelykop te maak:
# Vervolgens, krieket: ‘n Nie-regeringsorganisasie wat menseregte beskerm, Citizens for Integrity, dagvaar Krieket Suid-Afrika oor sy besluit in Januarie om David Teeger van die kapteinskap van Suid-Afrika se Onder 19-span te onthef in aanloop tot die Wêreldbekertoernooi in die ouderdomsgroep. Die Joodse speler het omstredenheid veroorsaak met sy opmerkings oor Israel se konflik in Gaza. Die organisasie sê in hofdokumente KSA het irrasioneel en onregmatig opgetree en sy besluit het Teeger in die verleentheid gestel, verneder en sy regte geskend.
# Volgende aan die beurt is tennis: Jasmine Paolini van Italië en Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek spook môre sake uit in Wimbledon se vroue-eindstryd. Die sewende gekeurde Paolini het die eerste stel verloor, maar teruggeveg en Donna Vekic van Kroasië in twee-uur-51-minute in drie stelle geklop. Dis die langste vroue-halfeindstryd in Wimbledon se geskiedenis. Krejcikova het 2022 se kampioen, Elena Rybakina van Kasakstan, 3-6, 6-3, 6-4 geklop. Paolini is die eerste Italiaanse vrou wat ‘n Wimbledon-eindstryd haal en sê sy bly gefokus ten spyte van haar onlangse suksesse:
# Ons maak ‘n draai by motorsport: Formule Een het aangekondig dat ses Grand Prix-snelrenne volgende jaar aangebied gaan word – dieselfde getal as vanjaar. China, Miami, België, Austin, Brasilië en Katar is gekies om dié alternatiewe formaat aan te bied. Sao Paulo in Brasilië bied die snelren elke jaar sedert 2021 aan terwyl België dit die eerste keer sedert verlede jaar sal aanbied. F1 se voorsitter, Stefano Domenicali, sê die snelrenne was tot nou ‘n groot sukses, want dit bied toeskouers meer aksie op die baan.
# En laastens, fietsy: Biniam Girmey van Eritreë het sy derde skofoorwinning in vanjaar se Tour de France behaal deur die 12de skof in te palm. Die 24-jarige het reeds die derde en agtste skof gewen en sy derde skofoorwinning vergroot sy punte-voorsprong in die snelrenne. Tadej Pogacar van Slowenië het intussen die geel trui van die algehele voorloper behou en is steeds een-minuut-ses-sekondes voor Remco Evenepoel van België. Girmay sê hy gaan in die toekoms op snelrenne fokus:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….