Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt vandag is rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus kon ‘n onveranderde opdrafspan aankondig vir Saterdag se tweede toets teen Ierland in Durban, maar die Ierse breier, Andy Farrell, was nie so gelukkig nie. Die skrumskakel Nathan Doak en die haker Dave Heffernan het by die span aangesluit om die beseerde Craig Casey en Dan Sheehan te vervang. Die stut Andrew Porter is in die beginspan ondanks ‘n sny aan die hand. Die senters Robbie Henshaw en Bundee Aki, die vleuel James Lowe en die heelagter Jamie Osborne moet nog fiksheidstoetse slaag.
Die Junior Springbokke kon intussen nie die halfeindronde van Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap haal nie. Hulle het met 17-12 teen Engeland verloor in Kaapstad. Suid-Afrika moes met ‘n bonuspunt en punteverskil van minstens 13 wen om na die laaste vier deur te dring. Hulle kom Sondag teen Argentinië te staan in die uitspeelstryd om vyfde plek. Engeland en Ierland spook sake uit in die halfeindronde, terwyl Nieu-Seeland en Frankryk mekaar sal pak.
# Volgende aan die beurt is krieket: Indië het Suid-Afrika in die derde en laaste T20-wedstryd in Chennai gemaklik met 10 paaltjies gewen om die reeks op een elk te laat eindig. Die Indiese naatbouler, Pooja Vastrakar, het vier paaltjies platgetrek en die Proteas was op 84 almal uit. Smriti Mandhana het daarna ‘n onoorwonne 54 aangeteken en Indië het die teiken in 10 boulbeurte en vyf balle bereik. Dit is beter as hulle vorige beste oorwinning oor Suid-Afrika in 2021. Die Proteas fokus nou op die T20-Wêreldbekertoernooi wat in Oktober in Bangladesj plaasvind.
# Vervolgens, sokker: Spanje kom Sondag teen Engeland of Nederland te staan in die eindstryd van die Europese Kampioenskap in Duitsland. Spanje het ʼn agterstand ingehaal danksy doelskoppe van die 16-jarige Lamine Yamal en Dani Olmo om Frankryk in München twee-een te verslaan. Yamal is die jongste speler ooit wat ‘n doel aanteken in ʼn Europese Kampioenskap. Spanje was die beste span vanjaar en het al ses hul wedstryde gewen. Hulle het ook die toernooi-rekord verbeter met hul 13 doele.
# Ons sluit af met tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, speel in Wimbledon se halfeindronde teen die Rus Daniil Medvedev. Alcaraz het die Amerikaner Tommy Paul in vier stelle verslaan terwyl Medvedev die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, in vyf stelle geklop het. In die vroueafdeling is Jasmine Paolini die eerste Italiaanse vrou in die ope-era wat Wimbledon se voorlaaste ronde haal nadat sy die Amerikaner Emma Navarro 6-2, 6-1 afgeransel het. Sy speel teen Donna Vekic van Kroasië wat die Nieu-Seelandse kwalifiseerder Lulu Sun verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus ……..