Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke se aanvals-afrigter, Tony Brown, sê die losskakel Handré Pollard het net wedstrydoefening nodig om sy skopritme te herwin. Dit volg nadat Pollard Saterdag onverwags drie skoppe pale toe verbrou het in die eerste toets teen Ierland in Pretoria. Brown sê Pollard het twee maande laas mededingend gespeel en hy is nie in die minste bekommerd oor die puntemaker se spelpeil nie. Die Bokke het die Iere 27-20 geklop ondanks Pollard se af-dag. Die laaste toets word Saterdag in Durban gespeel.
# Vervolgens, Paralimpiese Spele: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hy is geïnspireerd deur die atlete wat Suid-Afrika in Augustus in Parys gaan verteenwoordig. Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie, Olimpiese en Paralimpiese Komitee het ‘n eerste groep van 26 atlete aangekondig wat aan die Spele sal deelneem. Suid-Afrika het sewe medaljes, vier goud, een silwer en twee brons, verower op die vorige Spele in Tokio. McKenzie het aan die atlete gesê die span maak reeds die land trots:
Olimpiese Spele: Die Taliban in Afganistan erken nie die drie vroue-atlete wat die land in Parys sal verteenwoordig nie. Die Internasionale Olimpiese Komitee het ‘n groep van ses Afgaanse atlete – drie mans en drie vroue – genooi na samesprekings met die land se Nasionale Olimpiese Komitee wat grootliks in ballingskap is. Meisies en vroue in die land word verbied om aan sport deel te neem. Die drie vroue en twee van die mans woon buite Afganistan.
# Tennis is volgende aan die beurt: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na sy 15de kwarteindronde op Wimbledon. Die Serwiër het Holger Rune van Denemarke in skoon stelle geklop om ʼn kragmeting met die Australiër Alex de Minaur te bespreek. Die Amerikaner Taylor Fritz het ‘n agterstand van twee stelle uitgewis om die vierde gekeurde Duitser Alexander Zverev in vyf stelle te verslaan. 2022 se vroue-kampioen, Elena Rybakina van Kazakstan, kom in die kwarteindronde teen Elina Svitolina van Oekraïne te staan. Djokovic is tevrede met sy spel:
# En, ons sluit af met gholf: Keegan Bradley is aangewys as kaptein van Amerika se span vir volgende jaar se Ryder-bekerkompetisie teen Europa op die Bethpage Black-baan in New York. Die vyftienmalige Major-wenner Tiger Woods was skynbaar die eerste keuse vir die kapteinskap, maar het dit van die hand gewys. Bradley het net een Major-titel gewen – 2011 se Amerikaanse PGA-kampioenskap – en was in 2012 en 2014 in die Ryder-verloorspanne. Amerika se PGA-president, John Lindert, sê Bradley se ondervinding in die Ryder-beker is waardevol.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….