Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Bafana Nhleko, het sewe veranderings aangebring aan sy span wat môre in Kaapstad teen Engeland uitdraf in ‘n allerbelangrike wedstryd in die Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap. Likhona Finca sal sy buiging op regtervleuel maak, terwyl die vaskopstut Herman Lubbe sy debuut van die bank kan maak. Die gasheer moet Engeland klop om die halfeindronde te haal nadat hy teen Argentinië verloor het. Slegs die eerste twee spanne in die groepe gaan deur..
Nog rugbynuus: Die All Black-skrumskakel TJ Perenara en die Engelse stut Joe Marler sal waarskynlik albei Saterdag se tweede toets in Auckland misloop. Hulle is beseer in die eerste kragmeting in Dunedin, wat Nieu-Seeland 16-15 gewen het. All Black-afrigter Scott Robertson sê ‘n speler is op bystand vir ingeval Perenara nie herstel van ‘n kniebesering wat hy opgedoen het toe hy en ‘n spanmaat teen mekaar vasgehardloop het nie. Hy het pas teruggekeer na 18 maande met ‘n geskeurde haksening. Marler het sy voet seergemaak in sy 95ste toets.
# Krieket: Die tweede van drie Vroue-T20-wedstryde tussen Suid-Afrika en Indië in Chennai is halfpad weens reën gestaak. Tazmin Brits het haar tweede agtereenvolgende vyftigtal behaal en bygedra tot Suid-Afrika se 177 vir ses. Reën het Indië se kolfbeurt vertraag en die wedstryd is uiteindelik gestaak. Die besoekers is steeds een-nul voor in die reeks nadat hulle die eerste wedstryd met 12 lopies gewen het. Die derde en laaste kragmeting vind môre op dieselfde veld plaas.
# Tennis: Wimbledon se vroue-afdeling kan enigiets oplewer nadat die voorste twee gekeurde spelers die naweek uitgeskakel is, naamlik die wêreld nommer een, Iga Swiatek van Pole, en nommer twee, Coco Gauff van Amerika. Slegs twee van die top-tien is oor – die vierde gekeurde Elena Rybankina van Kazakstan en die sewende gekeurde Jasmine (Jazz-mien) Paolini van Italië. Die plaaslike gunsteling, Emma Raducano, het ook verloor. Die 19de gekeurde Amerikaner Emma Navarro lyk gevaarlik nadat sy met Gauff sowel as die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka van Japan, afgereken het.
Die voormalige wêreld nommer een, Andy Murray, is intussen uiters teleurgesteld omdat sy Wimbledon-loopbaan skielik beëindig is. Raducano het onverwags onttrek aan hulle gemengde dubbelspel weens ‘n stywe gewrig, en sê sy kan nie dubbels én enkels speel nie. Die 37-jarige Murray, wat in 2013 en ’16 die kampioen was, het vroeër aangedui hy sal na die Olimpiese Spele uittree. Hy moes onttrek aan die enkelspel, terwyl hy en sy broer Jamie in die eerste ronde van die mans-dubbelspel verslaan is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….