Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus het besluit om die All Blacks so lank moontlik aan die raai te hou deur eers Donderdagmiddag sy groep aan te kondig vir Saterdag se eerste toets. Hy kondig gewoonlik die span baie vroeër aan, maar het dit in die verlede ook so gedoen vir ‘n kragmeting met Nieu-Seeland. Erasmus wag glo steeds op nuus oor die fiksheid van spelers soos kaptein Siya Kolisi en die loskopstut Ox Nché. Kenners voorspel dat hy sy mees ervare span vir Ellispark sal kies.
Intussen is die All Black-stut Ollie Norris op pad terug na Nieu-Seeland nadat hy ‘n kraakbeenbesering opgedoen het en ses weke op die kantlyn moet bly. Hy is die vierde speler wat die res van Rugby’s Greatest Rivalry-toer in Suid-Afrika gaan misloop nadat George Bell, Billy Proctor en Caleb Clarke ook beseer is. Cortez Ratima se deelname aan die eerste toets teen die Springbokke is ook in die weegskaal weens ʼn kniebesering en Noah Hotham is opgeroep as moontlike plaasvervanger.
# Sokker: Kameroen het Malawi 3-0 verslaan in Rabat, Marokko, en hul heel eerste Afrikabeker-titel vir vroue ingepalm. Marie Ngah het twee doele aangeteken in die eerste helfte en Naomi Ndjoah Eto het kort voor rustyd nog een bygevoeg. Kameroen is die vierde land om WAFCON te wen na Suid-Afrika, Nigerië en Ekwatoriaal-Guinee. Kameroen se doelwagter, Michaely Kyria Bihia, sê die span het alles uitgehaal om te wen:
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, vertrou op sy span se herstelvermoë na die skokkende nederlaag van nege paaltjies in die eerste toets teen Bangladesj in Darwin. Dit was Bangladesj se eerste oorwinning in Australië en hul tweede toets-sege oor die wêreld se topspan. Cummins se besluit om eerste te kolf het onder die loep gekom omdat toestande later op die eerste dag verbeter het. Hy erken dat hulle in alle fasette ore aangesit is, en dat veranderinge moontlik is vir die tweede toets wat Saterdag in Mackay begin.
# En tennis: Iga Swiatek van Pole het haar Cincinnati-ope-titel begin verdedig met ‘n oorwinning oor die Colombiaan, Emiliana Arango, om die derde ronde te haal. Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Australiër Talia Gibson geklop en die Amerikaner Coco Gauff het die Rus Liudmila Samsonova verslaan. In die mansafdeling het die Portugese kwalifiseerder Jaime Faria die Amerikaner Ben Shelton uitgeskakel in sy eerste oorwinning oor ‘n top-tien-speler. Die vierde-gekeurde Rus, Daniil Medvedev, Felix Auger-Aliassime van Kanada en die Amerikaner Taylor Fritz is ook deur na die derde ronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….