Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus, Andy Farrell, sê hulle wil skoonskip maak in die toetsreeks teen die Wallabies nadat hulle reeds hulle eerste reeksoorwinning sedert 2013 beklink het. Hy sê hulle plan sal nie verander nie al het hulle reeds ‘n onaanvegbare voorsprong danksy Saterdag se oorwinning in die tweede toets in Melbourne. Farrell glo sy spelers het reeds genoeg gedoen om as Leeus-legendes bestempel te word. Hulle het tot dusver al agt hulle wedstyde gewen. Die laaste toets word Saterdag in Sydney gespeel.
Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Alan Gilpin, het intussen sy steun uitgespreek vir die wedstrydbeamptes in die tweede toets. Hulle is erg gekritiseer oor die besluit om Jac Morgan nie te straf vir ‘n vermeende onwettige optrede voor die Leeus-heelagter Hugo Keenan se wendrie nie. Die kritici sluit in die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, en Rugby Australia se uitvoerende hoof, Phil Waugh. Gilpin sê hulle sal soos gewoonlik skeidsregterbesluite hersien, maar nie die bevindings bekend maak nie.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle het geweet hul poging om hul Afrikabeker-vrouetoernooi-titel te verdedig, sou moeilik wees. Die span het na Suid-Afrika teruggekeer nadat hulle vierde gekom het in Marokko. Banyana het met drie strafdoele teen vier teen Ghana verloor in die wedstryd om die bronsmedalje. Ellis sê sy is nogtans trots op die spelers se algehele bydrae:
# Padwedlope: Die nuwe raad van die Twee Oseane-marathon gaan met Stad Kaapstad vergader om hulle verskille uit die weg te ruim. Die organiseerders het vanjaar meer as die voorgeskrewe aantal deelnemers vir die half-marathon toegelaat in stryd met die permit, waarop die metro sy steun en borgskap onttrek het. Die stadsraad het ook gedreig om ‘n permit vir volgende jaar se wedloop te weier tensy daar groot veranderinge kom. ‘n Nuwe raadslid, Stuart Mann, sê Vrydag se vergadering is die eerste stap om die stadsraad se vertroue te herwin.
# En krieket: Dis wel moontlik dat Indië die wêreld se beste toetsbouler, Jasprit Bumrah, sal inspan om die laaste toets teen Engeland te probeer wen en die reeks te deel. Daar is vroeër besluit dat hy weens ‘n rugbesering net drie wedstryde sal speel. Engeland loop egter 2-1 voor en hoofafrigter Gautam Gambhir sê hulle moet nog besluit of Bumrah sal speel. Kaptein Shubman Gill sê Bumrah lyk fiks en dit sal wonderlik wees as hy kan speel in die wedstryd wat Donderdag op die Oval in Londen begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….