Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ‘n ervare groep met 20 Wêreldbeker-wenners aangekondig wat Ierland Saterdag op ʼn stampvol Loftus Versfeld gaan pak. Daar is 15 in die opdrafspan, onder wie kaptein Siya Kolisi, en nog vyf op die bank. Erasmus sê hulle het ʼn ses-twee-verdeling tussen voor- en agterspelers op die bank, met Sacha Feinberg-Mngomezulu wat bo Manie Libbok verkies is:
Intussen het die Junior Springbokke se afrigter, Bafana Nhleko, vyf veranderings aan sy opdrafspan gemaak vir môreaand se Wêreldrugby Onder 20-kampioenskapswedstryd teen Argentinië in Stellenbosch. Een van die veranderings aan die span wat Fidji vroeër verslaan het, is Jaco Grobbelaar wat sy debuut maak op slot. Nhleko het ses voorspelers en twee agterspelers op die bank gekies, want hy verwag ‘n verwoede aanslag van die jong Pumas se pak. Die stut Zachary Porthen sal die gasheer op die Danie Craven-stadion aanvoer, met afskop 7-uur.
# Sokker: Nederland en Turkye pak mekaar in die kwarteindronde van die Europese Kampioenskap in Duitsland. Die span van Ronald Koeman het Roemenië 3-0 geklop danksy ‘n doel deur Cody Gakpo en twee deur Donyell Malen om onder die laaste agt te eindig. Intussen het Merih Demiral twee doele vir Turkye aangeteken – waarvan een die vinnigste ooit in die uitklopfase van die toernooi – vir ‘n skokoorwinning oor Oostenryk. Turkye het in 2008 laas die kwarteindronde gehaal.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, is gemaklik deur na die tweede ronde van Wimbledon nadat hy die Tsjeggiese kwalifiseerder Vit Kopriva 6-1, 6-2, 6-2 afgeransel het. Dis die Serwiër se eerste wedstryd ná sy knie-operasie. Die sesde-gekeurde Andrey Rublev van Rusland is die hoogste gekeurde speler om uitgeskakel te word toe hy teen die Argentyn Francisco Comesana verloor het. Die Duitser Alexander Zverev en die Deen Holger Rune is ook deur na die tweede ronde. Djokovic is tevrede met sy spel:
En, Wimbledon se verdedigende vroue-kampioen, Marketa Vondrousova, sê sy het gesukkel om haar senuwees te kalmeer toe sy in die eerste ronde uitgeskakel is. Die wêreld se nommer 83, Jessica Bouzas Maneiro van Spanje, het die 25-jarige Tsjeg 6-4, 6-2 verslaan vir haar eerste Grand Slam-oorwinning. Dis die eerste keer sedert 1994, toe Steffi Graf teen Lori McNeil verloor het, dat die verdedigende vrouekampioen in die eerste ronde uitgeskakel word. Vondrousova sê sy wil uit hierdie ervaring leer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….