Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Indië het sy plek in die T20-wêreldbeker-eindstryd teen Suid-Afrika verseker toe hy Engeland in Georgetown, Guyana, met 68 lopies verpletter het. Die eindstryd vind Saterdag in Barbados plaas. Indië se kaptein, Rohit Sharma, het sy span tot ‘n hoogs mededingende totaal van 171 vir sewe gelei nadat hulle gevra is om eerste te kolf. Engeland se lyding was vinnig verby en hulle was ná 16 boulbeurte en vier balle almal uit vir slegs 103. Suid-Afrika het Afghanistan Donderdagoggend in die eerste halfeindstryd met nege paaltjies afgeransel. Die Proteas het Afghanistan vir net 56 uitgeboul in 11 boulbeurte en vyf balle, en 60 vir een bereik in agt boulbeurte en vyf balle. Die eindstryd begin Saterdagmiddag halfvyf Suid-Afrikaanse tyd.
# En nou rugby: Die 14de Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap word van môre tot 19 Julie vir die tweede agtereenvolgende jaar in die Moederstad aangebied. Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die wêreld se 12 beste nasies meet oor vyf wedstryd-dae kragte op die Athlone-stadion, die Kaapstad-stadion en Danie Craven-stadion in Stellenbosch:
# Motorsport is volgende aan die beurt: Die driemalige wêreldkampioen Max Verstappen het uiteindelik bevestig dat hy volgende seisoen vir Red Bull gaan jaag. Mercedes het voelers na die 26-jarige Nederlander uitgesteek ten spyte van sy kontrak met Red Bull wat eers einde 2028 verstryk, en sy huidige motor wat hierdie seisoen sewe uit tien wedrenne gewen het. Verstappen het by ʼn nuuskonferensie voor die Oostenrykse Grand Prix gesê hy werk saam met die Red Bull-span en fokus daarop om volgende jaar weer mededingend te wees.
# Ons kyk nou na nuus oor fietsry: Die Internasionale Fietsryfederasie ondersoek die voorgestelde gebruik van ‘n ‘beheerkamer’ deur die span van die verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard, tydens die Tour de France. Die kamer stel spaneienaars, Visma-Lease-a-bike, vanjaar in staat om data intyds te verwerk. Die fietsryfederasie is tans besig met verifiëring om te verseker die opset voldoen aan die regulatoriese raamwerk. Volgens die Nederlandse span sal die kamer die afrigters in die motor ondersteun en in staat stel om die bes moontlike taktiese besluite vinniger te neem. Die toer begin Saterdag in Florence.
# Kanovaart is laaste op die spyskaart: Die 13-malige wenner Hank McGregor het dié week bevestig hy sal nie aan die 2024 Bergrivier-kanomarathon deelneem nie. Dit laat die vierdaagse kanovaart van die Paarl tot Velddrif wawyd oop vir jonk en oud wat almal hoop om op 6 Julie ʼn plek op die podium te kry. Die Bergrivier-marathon begin Woensdag in die Paarl en deelnemers roei op die eerste dag 62 kilometer tot by Zonkwas-drif. Dag twee is van Zonkwasdrif tot by Bridgetown, met die uitmergelende Koninginskof tot by Zoutkloof. Wind en getye kan die laaste 57 kilometer tot in Velddrif ʼn uitdaging maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….