Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Sokker is vandag eerste op die spyskaart: Suid-Afrika skop sy 2024 Cosafabeker-veldtog vanaand om ses af wanneer hulle Mosambiek in hul eerste Groep A-wedstryd in Gqeberha takel. Suid-Afrika is vyfmalige Cosafabeker-kampioen, maar is verlede jaar deur die uiteindelike kampioen van Zambië in die halfeindronde uitgeskakel. Bafana Bafana word vir die toernooi deur hulpafrigter Helman Mkhalele gelei wat ‘n sterk groep vir die wedstryd aangewys het. Mosambiek is verlede jaar in die eerste ronde uitgeskakel nadat Lesotho en Angola hulle in die groepwedstryde verslaan het.
Ondertussen gaan Real Madrid se verdediger en kaptein, Nacho, die Santiago Bernabeu ná 23 jaar verlaat. Sedert hy in 2001 by hul jeug-akademie aangesluit het, het die 34-jarige Spanjaard ses Kampioenskapsliga-titels saam met Madrid gewen, asook vier LaLiga-krone en twee Copa del Reys. Die Spaanse klub het in ʼn verklaring sy dank en toegeneentheid teenoor Nacho uitgespreek en hom een van die klub se legendes genoem. Nacho gaan volgens berigte moontlik by die Saoediese Pro League-span, Al-Qadsiah, aansluit.
# Vervolgens, tennis: Carlos Alcaraz begin Maandag om sy 2023 Wimbledon-titel te verdedig. Sy hoofteenstander is die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner. ʼn Oorwinning sal die 21-jarige Spanjaard ná sy Franse Ope-sege agtereenvolgende Grand Slam-krone besorg. Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, asook die 2013- en 2016-wenner Andy Murray, sukkel tans met beserings. Met Roger Federer wat afgetree het, en Rafael Nadal wat uitrus vir die Olimpiese Spele, sal dit die eerste keer in 22 jaar wees dat nie een van die Groot Vier in die eindstryd is nie.
# Boks is vogende aan die beurt: Vyf weke nadat hy die eerste onbetwiste swaargewig-bokskampioen in bykans 25 jaar geword het, het Oleksandr Usyk een van sy gordels prysgegee. Usyk het Tyson Fury op 18 Mei in ‘n nie-eenparige oorwinning geklop, om nou ook die WBC-titel by sy WBA, WBO en IBF-versameling te voeg. Volgens die Oekraïner kan sy IBF-gordel op die spel wees vir die wenner van die verwagte geveg tussen twee Britte, Anthony Joshua en Daniel Dubois. Usyk behou sy IBF-gordel vir sy herontmoeting met Fury in Desember.
# Ons sluit af met swem: Die Olimpiese swem-ikoon Michael Phelps en die viermalige goue-medaljewenner Allison Schmitt het die internasionale agentskap teen verbode middels, Wada, gevra vir hervorming weens sy hantering van die 2021-skandaal oor Chinese swemmers en verbode middels. Hulle het Wada gestriem oor die jongste onthulling oor 23 Chinese swemmers wat positief getoets het vir verbode hartmedikasie. Nie een van is geskors of gestraf nadat Wada China se verduideliking aanvaar het wat die toetsuitslae aan voedselbesmetting toegeskryf het. Phelps en Schmitt sê atlete se vertroue in Wada is geskaad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….