Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Afghanistan het gister hul eerste T20-Wêreldbeker-halfeindstryd ooit gehaal nadat hulle Bangladesj in ‘n dramatiese stryd op ʼn reën-deurdrenkte St Vincent verslaan het. Afghanistan het gekies om eerste te kolf en in hulle 20 boulbeurte 115 vir vyf aangeteken. Bangladesj het volgens die DLS-metode 114 lopies van 19 boulbeurte nodig gehad, maar was op 105 almal uit. Afghanistan en Suid-Afrika meet Donderdag in Trinidad kragte in ʼn wedstryd wat die oggend half-drie Suid-Afrikaanse tyd begin. Indië speel Donderdag in die tweede halfeindstryd in Guyana teen Engeland.
# Vervolgens, rugby: Die Springbokke is vanoggend weer tuis en nou wag almal vir die aankondiging van die groep vir die inkomende toere. Die aankondiging sal die opbou tot die reeks van twee wedstryde teen Ierland inlui wat die Bokke bitter graag wil wen. Ierland was die een teenstander wat hulle nie in Frankryk by die Rugby Wêreldbeker kon klop nie. Met almal wat beskikbaar is om vir die Bokke gekies te word, sal die spankeuse ‘n aanduiding wees van hoe Erasmus hierdie balanseertoertjie wil aanpak.
Die Australiese skeidsregter Angus Gardner het intussen weens persoonlike redes onttrek aan die Springbokke se toetsreeks teen Ierland en Luke Pearce van Engeland vervang hom. Wêreldrugby het dit Maandag sonder verdere verduideliking aangekondig. Die skeidsregter-program vir Julie se toetse moes egter in geheel aangepas word. Pearce is op 6 Julie skeidsregter vir die Springbokke se eerste toets teen Ierland en Karl Dickson op 13 Julie vir die tweede toets teen die Iere. Die Britse vroue-skeidsregter Hollie Davidson tree op 20 Julie in Bloemfontein as skeidsregter op wanneer die Bokke en Portugal kragte meet.
# Vervolgens, nuus van die tennisbaan: Novak Djokovic is bemoedig deur sy vordering na ‘n klein knie-operasie minder as drie weke gelede, maar die sewemalige Wimbledon-kampioen sê hy sal volgende maand slegs aan die grasbaan-toernooi deelneem indien hy voel hy kan meeding om die titel. Die 37-jarige het ‘n besering opgedoen tydens die Franse Ope en het voor die kwarteindstryd onttrek en daarna chirurgie ondergaan. Die wêreld nommer twee se enigste nederlaag tydens ‘n Grand Slam-toernooi in 2023 was toe hy by Wimbledon in vyf stelle deur Carlos Alcaraz in die eindstryd verslaan is.
Jelena Ostapenko het ondertussen haar aanslag op haar tweede Eastbourne-titel begin met ‘n oorwinning gister in skoon stelle oor Greet Minnen in die eerste ronde van die opwarmingstoernooi vir Wimbledon, terwyl die eerste gekeurde Elena Rybakina haar aan die toernooi onttrek het. Die voorste vier spelers op Eastbourne is almal outomaties deur na die tweede ronde, maar Rybakina – wat Wimbledon in 2022 gewen het – het haar Maandag aan die toernooi onttrek. Dit het daartoe gelei dat die 2020-kampioen van die Australiese Open, Sofia Kenin, na die tweede ronde deurgedring het as die gelukkige verloorder. Die 25-jarige Amerikaner kom volgende teen Harriet Dart van Amerika te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….