Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus van die Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het Span Suid-Afrika se verteenwoordiging by die Spele in Parys ‘n goeie hupstoot gegee toe nog name en sportkodes aangekondig is. Sascoc sê daar is nou 114 atlete in 15 kodes in die span. Bekende name wat by Span Suid-Afrika aansluit, is Johanita Scholtz, wat al twee goue medaljes in pluimbal by die Afrika Spele behaal het, die driekampatleet Henri Schoeman, en die roeier John Smith. Die Spele begin op 26 Julie.
# Vervolgens, krieket: Suid-Afrika het gister ‘n totaal van 194 vir 4 aangeteken om die mede-gasheer, Amerika, in hul T20 Wêreldbeker Super-Agt-wedstryd te klop. Die speler van die wedstryd, Quinton de Kock het egter erken dié toekenning vir ‘n beurt van 74 van 40 balle was ‘n aangename meevaller. In reaksie hierop het Amerika ‘n reuse-uitdaging aangepak, met die Suid-Afrikaans-gebore Andries Gous wat die Proteas onder druk geplaas het met ‘n 50-tal. Die Proteas speel Vrydag teen Engeland met die Wes-Indiese Eilande wat Sondag aan die beurt kom.
Engeland het ondertussen hulle beste vertoning tot dusver by die T20-Wêreldbeker gelewer deur die Windies in die Super 8-fase met agt paaltjies te klop. Na hulle die onoorwonne mede-gashere tot 180 vir vier op ‘n goeie kolfblad beperk het, het die verdedigende kampioene hulle beurt voltooi met 15 balle oor. Engeland kom in minder as 48 uur teen Suid-Afrika te staan, en sou hulle wen, kan hulle seker wees hulle gaan na die halfeindronde deurdring. Daarna is daar nog ‘n ontmoeting met die verrassingspakket van die toernooi, Amerika, met die twee top spanne in die groep wat deurgaan.
Kane Williamson het intussen afstand gedoen van die kapteinskap van Nieu-Seeland se witbalspanne nadat hulle in die groepfase van die T20 Wêreldbeker uitgeskakel is. Williamson het ‘n sentrale kontrak vir die 2024-2025-seisoen van die hand gewys en die kapteinskap van die T20- en eendagspanne van die hand gewys. Hy sal egter steeds toetskrieket speel. Die besluit bied die 33-jarige ster-kolwer die geleentheid om aan die aanloklike oorsese kompetisies deel te neem.
# Ons sluit af met tennis: Andy Murray se hoop om ná vanjaar se Wimbledon uit te tree, is in die weegskaal nadat hy gisteraand weens ʼn rugbesering aan die tweede-ronde-wedstryd by Queen’s moes onttrek. Die Britse tennis-ster sal ʼn skandering ondergaan nadat hy slegs vyf stelle teen die Australiër Jordan Thompson kon uithou. Wimbledon vind oor 14 dae plaas, maar Murray glo hy sal nog een verskyning kan maak. Die wêreld se gewese nommer een wou óf na Wimbledon óf die Olimpiese Spele in Parys aftree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….