Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Nizaam Carr het sy kontrak met die Bulle verleng tot 2027. Die oud-Springbok-losvoorspeler het 54 wedstryde vir die unie gespeel in twee tydperke sedert 2020. Die 33-jarige Carr sê die Bulle het sy familie geword. Hy is in Kaapstad gebore, maar sê een van die hoogtepunte van sy tyd op Loftus was toe hulle onlangs die Stormers in ‘n volgepakte stadion geklop het in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd. Hy hoop om te help om die volgende drie jaar ‘n paar trofees huis toe te bring.
# Krieket: Die Indiese kolfafrigter, Vikram Rathour, weier om die Nassau County-krieketstadion se kolfblad te kritiseer en sê dit is kolwers se verantwoordelikheid om by moeilike omstandighede aan te pas. Indië het Ierland gister met agt paaltjies verslaan in hulle openingswedstryd van die T20 Wêreldbekertoernooi. Die kolfblad is gekritiseer vir buitensporige naatbeweging en wip. Rathour sê hulle kan nie die blad verander nie en hulle fokus is dus daarop om wedstryde te wen:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, se onttrekking aan die Franse Ope beteken Sondag se manseindstryd sal die eerste keer in 20 jaar sonder een van die Groot Drie plaasvind. Die Serwiër, die 14-malige kampioen, Rafael Nadal van Spanje, en die Switserse meester Roger Federer het die toernooi sedert 2004 oorheers. Djokovic het drie oorwinnings behaal en Federer een. Djokovic het Maandag sy knie beseer, wat die Noorweër Casper Ruud laat deurdring het na die halfeindronde, met die Italianer Jannik Sinner wat volgende week oorneem as wêreld nommer een.
Alexander Zverev sê intussen hy wil bitter graag sy eerste Grand Slam-titel verower. Die vierde gekeurde Duitser het Alex de Minaur 6-4, 7-6, 6-4 geklop om die vierde agtereenvolgende keer na die halfeindronde van die Franse Ope deur te dring. Hy het sy vorige elf wedstryde gewen en verlede maand sy sesde ATP Meesters-trofee in Rome verower. Zverev sê hy het hard gewerk om hom weer in die posisie te plaas:
# En, motorsport: Mercedes sê hulle gaan dié naweek verdere opgraderings doen vir die Kanadese Grand Prix. Die Silver Arrows se beste Grand Prix-uitslag tot dusver die seisoen was ‘n vyfde plek, maar die span is optimisties ná ‘n goeie vertoning van George Russell se motor in Monaco, toe ‘n nuwe voorste vlerk gebruik is. Mercedes se baaningenieur, Andrew Shovlin, sê hulle is besig om die gaping tussen hulle en die voorste spanne, Red Bull, Ferrari en McLaren, te verklein:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….