Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS X (Maand) 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sien uit na Saterdag se geleentheid om op Loftus Versfeld met die All Blacks kragte te meet. Die Bulle moes aanpassings maak omdat hulle gewoonlik pas sou terugkeer van hul blaaskans tussen seisoene. Die All Blacks het die Stormers en die Haaie verslaan in hulle eerste twee toerwedstryde. Ackermann sê hy sou graag sommige spelers wedstryd-fiks wou kry:
Die All Black-senter Billy Proctor is intussen uit die res van die toer na hy sy bladbeen gebreek het in Vrydag se oorwinning van 38-21 oor die Stormers in Kaapstad. Die losskakel Richie Mo’unga is as sy plaasvervanger opgeroep en sal môre in Johannesburg aankom. Die 32-jarige Mo’unga het die afgelope drie jaar in Japan gespeel, wat hom nie verkiesbaar gemaak het vir die nasionale span nie. Hy moes sy plek verdien deur in die Nasionale Provinsiale Kampioenskap te speel.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle sal alles moet uithaal in vanaand se wedstryd teen hulle aartsvyand, Nigerië, in Marokko. Die wenner sal deurdring na FIFA se Tussenkonfederasie-uitspeelwedstryde en is steeds in tel vir ‘n plek in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Albei kon nie daarin slaag om die halfeindronde van die Afrikabekertoernooi te haal nie, wat outomatiese kwalifisering sou waarborg. Ellis verwag ‘n moeilike wedstryd:
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê Duan Jansen is ‘n dinamiese veelsydige speler van dieselfde kaliber as sy tweelingbroer, Marco, en hy hou hom al ‘n geruime tyd dop. Marco het sedert 2021 vir Suid-Afrika geskitter met die kolf en die bal. Duan sal na verwagting sy internasionale buiging maak in volgende maand se driehoekige T20-reeks teen Namibië en Zimbabwe in Windhoek nadat hy beïndruk het vir die Joburg Super Kings in die SA20, Mumbai Indians in die Indiese Premierliga en die plaaslike span, die Titans.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Ben Shelton, en sy Amerikaanse landgenoot, Brandon Nakashima, gaan sake uitspook in die eindstryd van die Kanadese Ope in Montreal. Shelton het nog ‘n Amerikaner, Learner Tien, uitgeskakel terwyl Nakashima die Spanjaard Rafael Jodar verslaan het om sy eerste ATP Meesters-een-duisend-eindstryd te haal. In die vroueafdeling in Toronto sal die wêreld-nommer-twee, Elena Rybakina van Kazakstan, en Iga Swiatek van Pole in die eindstryd kragte meet. Rybakina het die Amerikaner Coco Gauff in drie stelle geklop terwyl Swiatek met Elina Svitolina van Oekraïne afgereken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….