Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Glasgow Warriors beskou die Stormers se Springbok-losskakel, Manie Libbok, as die gevaarman in Saterdag se kwarteindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die gashere beskryf die Wêreldbeker-wenner as ‘n kulkunstenaar en sal hom teiken in die Skotse stad. Volgens die aanvalsafrigter, Nigel Carolan, is Libbok een van die beste losskakels in die sport en sê die Stormers presteer nie so goed as hy nie op sy beste is nie. Afskop in Scotstoun is 8:35 Saterdagaand.
# Sokker: Bykans die helfte van Afrika se Wêreldbeker-kwalifiseerders moet op ‘n neutrale veld gespeel word weens die swak toestand van stadions in die gasheerlande. Die beheerliggaam, CAF, het 17 lande uit 43 verbied om wedstryde aan te bied omdat hulle stadions nie op standaard is nie. Namibië moet die Orlando-stadion in Soweto as tuisveld gebruik vir vandag se wedstryd teen Liberië en Saterdag s’n teen Tunisië. Ander lande wat verbied is om hulle eie stadions te gebruik, sluit in Benin, Kongo, Madagaskar en Kenia.
# Tennis: Die tweede gekeurde Jannik Sinner sal in die halfeindronde van die Franse Ope teen Carlos Alcaraz van Spanje te staan kom. Sinner het sy strewe na ‘n tweede agtereenvolgende Grand Slam-titel voortgesit deur Grigor Dimitrov van Bulgarye te klop. Die Italianer sal Maandag tot nommer een op die wêreldranglys styg nadat Novak Djokovic hom weens ’n besering voor sy kwarteindstryd onttrek het. Alcaraz het Stefanos Tsitsipas van Griekeland verslaan. Sinner sê om nommer een te word is vir hom spesiaal:
Die Tunisiese ster, Ons Jabeur, het intussen die organiseerders van die Franse Ope gekritiseer oor die gebrek aan vroue-wedstryde saans, wat daartoe lei dat spel tot in die vroeë oggendure voortduur. Al tien aandwedstryde op Roland Garros tot dusver vanjaar was mans-wedstryde, wat baie langer as vroue-wedstryde duur. Jabeur se nederlaag teen Coco Gauff in die kwarteindronde het gisteroggend 11-uur begin en die vroeë gedeelte van die wedstryd is voor feitlik leë pawiljoene op die Philippe Chatrier-baan afgehandel.
# En, motorsport: Red Bull het Sergio Perez se kontrak met twee jaar verleng, en hy sal nou tot aan die einde van die 2026-seisoen by dié Formule Een-span aanbly. Die 34-jarige Mexikaan het hom in 2021 by die wêreldkampioen aangesluit vanaf Racing Point, nou Aston Martin. Perez het verlede seisoen ‘n loopbaan-beste tweede plek in die bestuurderskampioenskap behaal ná sy spanmaat, Max Verstappen, en Red Bull gehelp het om hulle eerste een-twee-uitslag asook die vervaardigerstitel te beklink.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….