Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Twyfel bestaan of die Wêreldbeker-ster Marco van Staden vir die Bulle beskikbaar gaan wees vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Italiaanse span Benetton in Pretoria. Hy is beseer tydens Saterdag se sege van 26-14 oor die Haaie in Durban. Van Staden het eers onlangs teruggekeer na die speelveld nadat hy vroeër ’n ligamentbesering opgedoen het. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê hulle het ‘n paar moontlikhede:
Nog nuus oor die sport is dat die Springbok Sewes se afrigter, Philip Snyman, teleurgesteld is oor hul vertoning in die Madridse Sewes, die laaste toernooi van die Wêreldreeks. Die Blitsbokke moes tevrede wees met ‘n sesde plek nadat hulle met 12-7 verloor het in hul uitspeelwedstryd teen Ierland. Suid-Afrika se fokus sal nou gevestig wees op Monaco later die maand, waar hulle nog kan kwalifiseer vir volgende maand se Olimpiese Spele in Parys. Snyman sê hul gebrek aan konsekwentheid was duidelik te sien in Spanje:
# Krieket: Die T20-Wêreldbekertoernooi se medegasheer, die Wes-Indiese Eilande, het hulle Groep C-openingswedstryd in Guyana teen Papoea-Nieu-Guinee met vyf paaltjies gewen. Papoea-Nieu-Guinee het herstel van 50 vir vier en uiteindelik 136 vir agt in hul 20 boulbeurte aangeteken, met Andre Russell en Alzarri Joseph wat elkeen twee paaltjies laat kantel het. Die speler van die wedstryd, Roston Chase, het daarna ‘n onoorwonne 42 gemoker en die tweemalige kampioen het geseëvier met ses balle oory. Suid-Afrika skop vandag sy veldtog af teen Sri Lanka in New York.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, kom in die kwarteindronde van die Franse Ope teen Stefanos Tsitsipas van Griekeland te staan. Die Spanjaard het die Kanadees Felix Auger-Aliassime verslaan terwyl Tsitsipas die Italianer Matteo Arnaldi geklop het. In die vroue-afdeling het die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, die vinnigste sege van haar loopbaan behaal toe sy die Rus, Anastasia Potapova, binne 40 minute 6-stroop, 6-stroop verpletter het om die kwarteindronde te haal. Alcaraz sien uit na die wedstryd teen Tsitsipas:
# En, sokker: Die Franse doelskieter Kylian Mbappé gaan hom by Real Madrid aansluit terwyl ‘n aankondiging afgewag word. Die 25-jarige het in Mei aangekondig dat hy Paris St-Germain aan die einde van die seisoen verlaat. Mbappé, wat 256 doele in 308 wedstryde vir PSG aangeteken het, sal ‘n kontrak van vyf jaar teken met Santiago Bernabeu, en sowat 305-miljoen-rand per seisoen verdien. Die La Liga-oordragvenster vir spelers open op een Julie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….