Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-kaptein, Aiden Markram, sê die kern-spelers in die huidige nasionale groep kan oor die volgende paar jaar meer trofees wen. Die Proteas se mikpunt is om die land se eerste groot senior wêreldtitel te buit op die T20-Wêreldbekertoernooi wat môre in Amerika en die Karibiese Eilande begin. Suid-Afrika kon net twee van hulle laaste 13 T20-wedstryde wen. Markram erken hulle sal alles moet uithaal om die Wêreldbeker omhoog te hou.
# Rugby: Die Springbok Sewes het hulle voorbereidings afgehandel vir die finale toernooi van die reeks, die Grand Finale, dié naweek in Madrid. Al agt spanne speel vandag en môre hulle groepwedstryde, met die top twee spanne uit elke groep wat deurdring na Sondag se halfeindstryde. Die Blitsbok-afrigter Philip Snyman sê die span moet terugkeer na hulle bewese vermoë om al ses wedstryde in ‘n toernooi te wen:
Nog rugby: Die volgende seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap sal plaaslik afskop met twee derbies. Die Stormers sal die Bulle op 21 September in Kaapstad verwelkom, terwyl die Haaie en die Leeus in Durban speel. Die gewilde kusontmoetings sal ook in Desember terugkeer, met die Stormers wat teen die Leeus en die Haaie speel, terwyl die Bulle KwaZulu-Natal toe sal gaan om die Haaie te pak. Die eindstryd vind op 14 Junie volgende jaar plaas.
# Atletiek: Akani Simbine van Suid-Afrika het’n klinkende oorwinning in die mans 100-meter behaal op die Diamantliga-byeenkoms in Oslo, Noorweë. Hy het die seisoen se beste tyd van 9,94 sekondes behaal deur Abdul Hakom Sani Brown van Japan onder die stof te hardloop, met Emmanuel Eseme van Kameroen derde. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Prudence Sekgodiso, het die 800-meter vir vroue in ‘n tyd van een minuut-58,66-sekondes gewen, met Natoya Goule-Toppin van Jamaika tweede.
# En, ons sluit af met tnnis: Die organiseerders van die Franse Ope het ‘n verbod op die gebruik van sterk drank op pawiljoene aangekondig om opruiende gedrag te keer. Dit volg nadat die Belg David Goffin Maandag uitgejou is na sy oorwinning oor die plaaslike speler Giovanni Mpetshi Perricard, en die wêreld se nommer-een vrouespeler, Iga Swiatek, gister die skare gevra het om tydens houespel stil te bly. Die toernooidirekteur, Amelie Mauresmo, sê skeidsregters sal ook toeskouers strenger hanteer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….