Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Blitsbokke se kaptein, Selvyn Davids, sê hulle is optimisties oor hulle vooruitsigte in die naweek se Grand Finale van die Sewesreeks in Spanje. Slegs die top agt mans- en vrouespanne sal in Madrid meeding. Na sewe rondes is Argentinië en Nieu-Seeland die onderskeie mans- en vroue-ligawenners, voor die nuwe alleenstaande toernooi in die Spaanse hoofstad. Suid-Afrika speel sy groepswedstryde teen Ierland, Nieu-Seeland en Fidji. Davids sê hulle vertoning in die laaste twee toernooie gee hulle selfvertroue:
Nog nuus oor die sport is dat die Bulle-vleuel Sebastian de Klerk sê hulle beplan om Saterdag ‘n omvattende Verenigde Rugbykampioenskap-stryd teen die Haaie te voer. In die laaste ronde van die VRK sal die Bulle graag die stryd om die Suid-Afrikaanse Skild wil wen, en onder die top-twee op die VRK-punteleer eindig. Die span van Pretoria het altesaam 69 punte afgestaan in die laaste twee wedstryde teen Glasgow Warriors en Benetton, maar De Klerk sê hulle is tevrede met hul verdediging dié seisoen.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, het ‘n wedstrydpunt afgeweer onderweg na ‘n oorwinning oor Naomi Osaka van Japan in die tweede ronde van die Franse Ope. Die 22-jarige Pool het in drie stelle gewen. Daar was ook oorwinnings vir die Amerikaner Coco Gauff en die Tunisiër Ons Jabeur. Carlos Alcaraz van Spanje het Jesper de Jong van Nederland verslaan, terwyl die Italianer Jannik Sinner met die veteraan-Fransman Richard Gasquet afgereken het. Swiatek sê dit was ‘n taai wedstryd:
# Boks: Oleksandr Usyk gaan die Brit Tyson Fury in ‘n herontmoeting op 21 Desember in Riyadh, Saoedi-Arabië, die stryd aansê, nadat hy vroeër die maand hulle onbetwiste swaargewig-geveg gewen het. Die onoorwonne bokser van Oekraïne het in ‘n verdeelde beslissing teen Fury gewen in die eerste verenigings-geveg van die vier-gordel-era. Die 37-jarige Usyk, wat na die Russiese inval ‘n ruk lank as soldaat geveg het, is ook die onbetwiste kampioen in die ligswaargewig-afdeling en het as ‘n amateur medaljes verower op die Olimpiese Spele, die wêreld- en die Europese kampioenskap.
# En, gholf: Aanklagte is laat vaar teen die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, nadat hy tydens die PGA-kampioenskap in Louisville in hegtenis geneem is. Die Amerikaner is aangekla van aanranding op ‘n polisiebeampte, misdadige optrede, roekelose bestuur en dat hy ʼn verkeersbeampte ignoreer het. Die Jefferson-distrik se aanklaer, Mike O’Connell, sê hy het die bewyse bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom Scheffler se gedrag was nie misdadig nie. Scheffler se prokureur, Steve Romines, sê sy 27-jarige kliënt gaan nie ʼn siviele saak aanhangig maak nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….