Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Kolkata Knight Riders het ‘n oortuigende oorwinning van agt paaltjies oor Sunrisers Hyderabad behaal en spog met hul derde Indiese Premierliga-titel. Andre Russell het drie paaltjies laat kantel en Sunrisers is uitgeboul vir 113 – die laagste telling ooit in ʼn IPL-eindstryd. Kaptein Shreyas Iyer het daarna geskitter met die kolf en ʼn onoorwonne 52 aangeteken terwyl Kolkata die teiken binne 11 boulbeurte bereik het. Iyer sê die span het reg deur die toernooi beïndruk:
Nog nuus oor die sport is dat die Wes-Indiese Eilande Suid-Afrika in die derde en laaste T20 met agt paaltjies verpletter het om die reeks in Jamaika met drie-nul op te raap. Obed McCoy het drie paaltjies platgetrek terwyl die Windies die Proteas tot 163 vir sewe beperk het met Rassie van der Dussen wat ʼn vyftigtal behaal het. Johnson Charles het daarna 69 gemoker en die Windies het hul teiken bereik met 37 balle oor. Suid-Afrika het sedert die laaste T20-Wêreldbekertoernooi slegs twee van sy laaste elf voltooide wedstryde gewen.
# Motorsport: Charles Leclerc van Ferrari het sy tuisren, die Monaco Grand Prix gewen. Hy het ‘n vroeë aanslag deur Oscar Piastri van McLaren afgeweer om sy eerste oorwinning sedert Julie 2022 te behaal. Sy spanmaat Carlos Sainz het derde geëindig. Lando Norris van McLaren was vierde en George Russell van Mercedes vyfde. Die heersende wêreldkampioen, Max Verstappen van Red Bull, was sesde en sy kampioenskapsvoorsprong bo Leclerc het tot 31 punte gekrimp. Leclerc sê dis baie spesiaal om tuis te wen:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje en Stan Wawrinka van Switserland is deur na die tweede ronde van die Franse Ope. Alcaraz het die Amerikaner JJ Wolf 6-1, 6-2, 6-1 geklop. Wawrinka, die kampioen van 2015, het die Brit Andy Murray 6-4, 6-4, 6-2 uitgeskakel. In die vroueafdeling het die viermalige Grand Slam-wenner, Naomi Osaka van Japan, die Italianer Lucia Bronzetti 6-1, 4-6, 7-5 uitgeknikker, terwyl die Switser Viktorija Golubic die voormalige kampioen van die Tsjeggiese Republiek, Barbora, Krejcikova, in skoon stelle verslaan het.
Intussen sê die veertienmalige kampioen, Rafael Nadal, hy sien uit daarna om vandag kragte te meet met Alexander Zverev van Duitsland in die eerste ronde. Die Spanjaard het sedert Januarie verlede jaar slegs aan vier toernooie deelgeneem na hy ‘n heupbesering opgedoen en toe ‘n spier geskeur het. Dit het hom ongekeur gelaat vir die tweede Grand Slam van vanjaar. Nadal sê hy het ‘n gedugte teenstander in die openingsronde verwag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….