Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Daar is agt wêreldkampioen-Junior Springbokke in die Westelike Provinsie se groep vir die Curriebeker. Die WP begin hul veldtog Saterdag met ‘n Noord-Suid-botsing teen die Bulle in Kaapstad. Die Junior Springbok-kaptein, Riley Norton, is saam met sy spanmaats Xola Nyali, Wandile Mlaba, Oliver Reid, Herman Lubbe, Siya Ndlozi, Dominic Malgas en Gino Cupido in die senior groep, hoewel hulle eers volgende week vir moontlike insluiting in aanmerking sal kom. Hulle het dié week uit Italië teruggekeer.
Die Britse en Ierse Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, het intussen sewe veranderings aangebring aan die span wat Australië Saterdag pak in die tweede toets in Melbourne. Bundee Aki, Ollie Chessum en Andrew Porter is in die beginspan en vervang Sione Tuipulotu en Joe McCarthy, wat beseer is, en Ellis Genge wat bank toe skuif. Owen Farrell, Jac Morgan, James Ryan en Blair Kinghorn is ook op die bank. Die afrigter sê dis altyd moeilik om ‘n span te kies:
# Krieket: Die ses franchise-spanne in die SA20 begin vorm aanneem vir die vierde seisoen wat op 26 Desember begin. Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, is onderweg na die speler-veiling nadat Sunrisers Eastern Cape nie hul kaptein van die eerste drie seisoene behou het nie. Die voormalige Protea-kaptein, Faf du Plessis, gaan by Joburg Super Kings bly, terwyl die verdedigende kampioen, MI Cape Town, die dienste van Ryan Rickelton, George Linde, Corbin Bosch en Kagiso Rabada sal hê. Die veiling vind op 9 September plaas.
# Netbal: Die Baba Proteas het hulle oog op ‘n top-drie posisie op die Onder-21-Jeug-Wêreldbekertoernooi in Gibraltar, Spanje, vanaf 19 tot 25 September. Die groep van 15 spelers sluit in kaptein Phophi Nematangari, Jade Atkins en Renezia Andrews. Suid-Afrika, wat die Afrika-kwalifisering onoorwonne afgesluit en ‘n reeks-oorwinning oor Jamaika behaal het, speel in groep D teen Trinidad en Tobago, Barbados, Malawi en Fidji. Nematangari is seker haar span sal goed vaar:
# En tennis: Die topgekeurde Taylor Fritz is deur na die laaste 16 op die Washingtonse Ope. Die Amerikaner het die Australiër Aleksandar Vukic geklop om sy eerste sege sedert Maart op die hardebaan te behaal. Die Rus Daniil Medvedev het die Amerikaner Reilly Opelka maklik verslaan terwyl die Australiër Alex de Minaur met Yunchaokete Bu van China afgereken het. In die vroueafdeling het Maria Sakkari van Griekeland en Anna Kalinskaya van Rusland oorwinnings behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….