Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Vandag heel eerste rugby: Die senter van die Haaie, Murray Koster, is vir vyf wedstryde geskors oor sy rooikaart teen Benetton in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd in Durban. Hy het die rooikaart gekry vir ‘n gevaarlike aansluiting by ‘n losskrum. Koster se goeie rekord, tydige erkenning van skuld en verskoning het gelei tot ‘n skorsing van vyf wedstryde in plaas van die geregverdigde tien. Hy sal môre se kragmeting met Cardiff in Durban misloop, asook die Uitdaagbeker-eindstryd teen Gloucester en die laaste wedstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Bulle.
# Vervolgens, padwedlope: Die organiseerders van die Comrades-marathon het ingestem om die eerste afsnypunt by St Johnslaan in Pinetown te verwyder. Hulle het talle versoeke ontvang weens die tyd wat dit duur om oor die wegspringstreep te kom, die padwerke in Sherwood, en atlete wat gedwing word om hulle tempo aan te pas in die eerste helfte van die wedloop. Vanjaar se op-marathon van Durban na Pietermaritzburg op die negende van volgende maand beteken aanhoudende opdraendes oor die eerste 38 kilometer, wat beteken atlete moet stadiger wegspring om energie te spaar.
# Nou sokker: Brasilië is aangewys as gasvrou vir die Wêreldbekertoernooi vir Vroue in 2027, teenoor ‘n gesamentlike bod van België, Duitsland en Nederland. Die wêreld-beheerliggaam, Fifa, het vanoggend in Bangkok, Thailand, tussen die twee aanbiedings gestem. Altesaam 119 afgevaardigdes het vir Brasilië gestem en 78 vir die Europese bod. Brasilië het ook beter gevaar in Fifa se evalueringsverslag. Die land beplan om tien stadions te gebruik wat vir 2014 se Wêreldbekertoernooi vir mans ingespan is. Dis die eerste keer dat die vrouetoernooi in Suid-Amerika gehou word.
# Nuus van die gholfbaan: Die Amerikaner Xander Schauffele het ‘n voorsprong van drie houe na die openingsronde van die PGA-kampioenskap in Kentucky. Hy is die eerste speler in die geskiedenis van die toernooi om ‘n ronde van 62 te behaal en slegs die vierde ooit om dit in ‘n mans Major-toernooi te vermag. Sy landgenote, Tony Finai en Sahith Theegala, is saam tweede op ses onder baansyfer. Nog ‘n Amerikaner, Brooks Koepka, wat sy titel verdedig, is op vier-onder, 67. Schauffele sê hy is tevrede met hoe hy gespeel het:
# En, ons sluit af met tennis: Die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek, kom in die Italiaanse Ope se eindstryd teen nommer twee, Aryna Sabalenka, te staan. Die 22-jarige Pool het die Amerikaner Coco Gauff verslaan, terwyl die Belarus ʼn ander Amerikaner, Danielle Collins, geklop het. In die mansafdeling het die Chileen Nicolas Jarry die sewende gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland uitgeskakel om die halfeindronde te bereik. Tommy Paul van Amerika het Hubert Hurkacz van Pole verslaan. Sabalenka sê sy sien uit daarna om teen Swiatek te speel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….