Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Mei 2:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, atletiek: Die Kommissie vir Geslagsgelykheid doen ‘n beroep op lande en aktiviste om hulle agter Caster Semenya te skaar in ‘n poging om geregtigheid vir haarself en ander atlete te laat geskied. Die Europese Hof van Menseregte gaan vandag ‘n finale besluit neem oor Semenya se regstryd oor testosteroon-regulasies. Die tweemalige Olimpiese kampioen oor 800 meter betwis die vereiste om haar testosteroonvlakke te verlaag om deel te neem. Die kommissie sê ‘n gunstige uitslag is belangrik vir atlete met verskille in seksuele ontwikkeling, wêreldwyd.
# Rugby: Die Bulle is derde op die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap en op koers om ‘n kwarteindstryd aan te bied. Hulle het nog twee wedstryde oor om hulle posisie te bevestig en hopelik selfs op te skuif. Die Bulle speel Saterdag op Loftus teen die Italiaanse span Benetton voor hulle na Durban reis om die Haaie te pak voor die uitklopronde aanbreek. Die stut Wilco Louw sê die Bulle moet hulle fokus behou om Benetton te klop:
# Krieket: Delhi Capitals het sy groepsfase van die Indiese Premierliga afgesluit met ‘n sege van 19 lopies oor Lucknow Super Giants om op koers te bly vir ʼn plek onder die top vier, al is dit net wiskundig gesproke. Die Capitals het 208 vir vier behaal met vyftigtalle deur die Protea-kolwer Tristan Stubbs, en Abishek Porel. Super Giants is daarna beperk tot 189 vir nege nadat Ishant Sharma drie paaltjies laat kantel het. Stubbs sê dit was nie die maklikste kolfblad nie:
Nog nuus oor die sport is dat twee ervare spelers uitgelaat is toe Nederland se groep aangewys is vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi in die Karibiese Eilande en Amerika. Die Suid-Afrikaans-gebore Roelof van der Merwe en Colin Ackerman is vervang met die jonger Tim Pringle en Michael Levitt. Levitt het in Februarie beïndruk met ‘n blitsige honderdtal teen Namibië. Die paaltjiewagter Scott Edwards bly aan as kaptein. Nederland speel sy groepswedstryde teen die Proteas, Sri Lanka, Bangladesj en Nepal.
# En, sokker: Manchester City het goeie vordering gemaak op pad om ʼn vierde agtereenvolgende Premierliga-titel op te raap toe hy Tottenham Hotspur 2-0 verslaan het. Erling Haaland se doele in die tweede helfte het die oorwinning verseker en Pep Guardiola se span ʼn voorsprong van twee punte bo Arsenal gegee. City sal weer die trofee omhoog hou as hulle Sondag met West Ham United kan afreken. Tottenham se kans op ʼn plek in die Kampioeneliga is egter verpletter. Guardiola sê sy spelers besef hulle het nog nie gewen nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….