Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met krieket: Die Proteas se reeks van drie T20’s teen die Wes-Indiese Eilande is deel van die twee lande se voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi wat op die tweede van volgende maand in die Karribiese Eilande en Amerika begin. Suid-Afrika kom van volgende Donderdag af te staan teen die gashere en keer in Augustus terug om twee toetse en nog drie T20s te speel. Die Wêreldbekertoernooi begin met die aanvangswedstryd tussen Amerika en Engeland in Dallas, en die eindstryd word die 24ste in Bridgetown, Barbados, gespeel.
Ons bly by krieket: Die afgetrede bouler van Engeland, Stuart Broad, sê daar is ‘n dringende behoefte aan ʼn nuwe geslag boulers wat betyds hul voete kan vind voor die volgende reeks om die As in 2025 en ’26. Engeland se voorste paaltjie-nemer van alle tye, James Anderson, tree in Julie uit na die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande op Lord’s. Broad sê met Anderson se uittrede sal die span se boulaanval in die kort termyn moontlik daaronder ly, veral teen die Windies wat Australië onlangs verslaan het.
# Vervolgens, tennis: Daar wag ‘n groot aansporing vir Jannik Sinner op die Franse Ope. Novak Djokovic van Serwië se vroeë uitskakeling in die Italiaanse Ope beteken die Italianer kan by hom oorneem as die wêreld nommer een op Roland Garros. Die Chileen Alejandro Tabilo het Djokovic Sondag in skoon stelle geklop, wat beteken selfs al wen hy in Parys vir sy 25ste Grand Slam-titel, sal Sinner die topposisie oorneem deur net die eindstryd te bereik. Sinner is egter tans in ‘n stryd teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees.
# Nou tyd vir motorsport: Mercedes sê hy bring die naweek nog opgraderings na die Emilia Romagna Grand Prix in Italië. Daar was twee jaar gelede laas ‘n Formule Een-wedren op Imola weens vernietigende oorstromings wat die gebied verlede jaar getref het. Mercedes se ingenieursdirekteur, Andrew Shovlin, sê hulle het die eerste helfte van die opgraderings in die Miami Grand Prix toegepas, wat tot verbeterings gelei het:
# En, ons sluit af met swem: Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels, Wada, sê hy hou Vrydag ʼn buitengewone vergadering om die saak van 23 Chinese swemmers te bespreek wat positief getoets het vir voorskrif-hartmedikasie. Die organisasie het in April onder skoot gekom nadat dit aan die lig gekom het die swemmers het voor die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 positief getoets vir trimetazidien, maar is steeds toegelaat om deel te neem. Die middel kan prestasie verhoog. Wada sê hy kon nie die Chinese Agentskap teen Verbode Middels se bevinding weerspreek dat die toetse weens besmetting misluk het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….