Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Suid-Afrika het die eerste COSAFA-toekenningsplegtigheid oorheers wat in Johannesburg gehou is. Die toekenning vir Mansafrigter van die Jaar het aan Mamelodi Sundowns se breier, Rulani Mokwena, gegaan, terwyl Desiree Ellis, wat Banyana Banyana afrig, as Vroue-afrigter van die Jaar vereer is. Sundowns se spelers, Ronwen Williams, Thapelo Maseko en Andile Dlamini, is onderskeidelik as Mansdoelwagter van die Jaar, Mees belowende Manspeler en Vrouedoelwagter van die Jaar bekroon. Die Al Ahly-ster Percy Tau is as die Mansspeler van die Jaar aangewys. Mokwena sê dié toekenning is baie spesiaal:
# Krieket is volgende aan die beurt: Vanjaar se SA20 het meer as 20-persent meer televisiekykers gelok as verlede jaar se aanvangseisoen. Tien van die 34 wedstryde is uitverkoop, insluitend die eindstryd op Nuweland, waar die Sunrisers Eastern Cape hulle titel behou het deur Durban’s Super Giants te klop. Meer as 70-persent van die beskikbare kaartjies is verkoop, terwyl 96-persent van die toeskouers die stadion-ondervinding as baie lekker beskryf het. Die kommissaris van die liga, Graeme Smith, gee krediet vir die suksesvolle seisoen aan ondersteuners, vennote, spelers en belanghebbers.
Nog krieketnuus: Virat Kohli bly die voorste kolwer in vanjaar se Indiense Premiersliga, met 634 lopies in 12 wedstryde teen ‘n ongelooflike gemiddeld van 70 lopies. Dit volg nadat hy 92 gemoker het om Royal Challengers Bengaluru ‘n oorwinning van 60 lopies oor Punjab Kings te besorg. Dit hou hulle skrale hoop lewend om die uitspeelrondes te haal. Die span het 241 vir sewe aangeteken en Punjab daarna uitgeboul vir 181. Die 35-jarige Kohli sê hy is bly hy kon tot die oorwinning bydra:
# Ons kom vervolgens by rugby: Die Rugbyvoetbalunie het die sterspeler van Engeland en Saracens, Billy Vunipola, amptelik gewaarsku nadat hy verlede maand in Majorka, Spanje, in hegtenis geneem is. Die 31-jarige speler het in die openbaar verskoning gevra ná sy boete omdat hy in April nie ‘n kroeg in die eiland se hoofstad, Palma, wou verlaat nie. Die waarskuwing sal vyf jaar lank op Vunipola se tugrekord bly. Die unie sê hy het Engeland se nommer agt duidelik laat verstaan dat sulke gedrag deur ʼn senior en gerespekteerde speler die spel in oneer bring.
# Ons sluit af met padwedlope: Sommige van Afrika se elite atlete maak gereed om Sondag deel te neem aan die negende Run Your City-wedloop in Kaapstad. Suid-Afrika se tienkilometer-rekordhouer, Precious Mashele, Suid-Afrika se driemalige Olimpiese deelnemer, Stephen Mokoka, en die Olimpiese atleet van Lesotho, Neheng Khatala, is onder die 12-duisend drawwers wat die roete oor tien kilometer tussen Milnerton en die middestad sal aanpak. Die stad sê dié geleentheid het een van die land se gewildste padwedlope geword.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….