Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Mei 2:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-vroue is op pad om vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland te kwalifiseer en hul Afrika-titel te verdedig. Dit volg ná ‘n bonuspunt-oorwinning van 63-5 oor Kenia in die Afrika Rugby Vrouebeker in Madagaskar. Die Bok-vroue is boaan die punteleer, maar Sondag se wedstryd teen Madagaskar sal hul plek in die Wêreldbekertoernooi bevestig. Afrigter Louis Koen sê hy is tevrede met hoe hulle die wedstrydplan uitgevoer het:
Nog nuus oor die sport is dat die Leeus steeds mik na ‘n plek in die uitspeelronde van die Verenigde Rugby Kampioenskap vir die eerste keer. Hulle moet hulle oorblywende drie wedstryde wen om ‘n kans te hê en kom Saterdag te staan teen die Walliese span, Cardiff Blues. Die Leeus het dié seisoen soms briljant gespeel, maar in ander wedstryde gestruikel. Die voorspeler-afrigter Barend Pieterse sê die onbestendigheid is frustrerend:
# Tennis: Die tien-malige kampioen Rafael Nadal van Spanje pak vandag die Belgiese kwalifiseerder Zizou Bergs in sy eerste wedstryd op die Italiaanse Ope. Die 37-jarige Nadal is ongekeur vir die toernooi wat hy tradisioneel gebruik as finale voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy al ‘n rekord 14-keer gewen het. Die voormalige wêreld nommer een-speler is nou in die 305de plek op die wêreldranglys, weens ‘n string beserings. Hy het egter beïndruk in die kleibaantoernooie voor Rome. Die 24-jarige Bergs is tans 102de op die ranglys.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, sê hy is nie van plan om weer by die PGA-toer se beleidsraad aan te sluit nie. Webb Simpson het verlede maand volgens berigte aangebied om uit die raad te bedank en versoek dat McIlroy sy plek inneem. Die 35-jarige se heraanstelling is onderworpe aan ‘n stemming deur raadslede. McIlroy sê sommige raadslede was ongemaklik oor sy moontlike terugkeer:
# En nuus van die Olimpiese Spele: Die viermalige goue medaljewenner in verspring, Carl Lewis, verwag nie vanjaar ‘n groot opskudding in dié item op die Spele in Parys nie. Die Amerikaner het die item gewen op agtereenvolgende Spele, van 1984 tot 1996, asook twee wêreldtitels. Lewis beskryf die verspring as die moeilikste van alle velditems en bevraagteken die geesteskrag van die huidige atlete. Die wêreldrekord staan tans op 8,95 meter en die Olimpiese rekord op 8,90 meter, terwyl Miltiadis Tentoglou van Griekeland op die Spele in Tokio goud gewen het met ‘n sprong van 8,41 meter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….