Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen het ‘n spesiale uitnodiging van die 106de PGA-kampioenskap van die hand gewys as gevolg van ʼn onbekende persoonlike verpligting. Hy was een van die LIV Gholf-spelers wat ʼn spesiale uitnodiging ontvang het om volgende week by Valhalla in Louisville, Kentucky, deel te neem. Die Saoedi-ondersteunde LIV sal deur 16 spelers verteenwoordig word wat die verdedigende kampioen, Brooks Koepka, asook Jon Rahm en Dustin Johnson insluit.
# Rugby: Die Engelse flank Tom Curry kan na Sale Sharks se span terugkeer vir Vrydag se Premierskapswedstryd teen Leicester Tigers nadat hy in November ‘n heup-operasie ondergaan het. Hy het in die Wêreldbekertoernooi laas gespeel, toe hy omstredenheid veroorsaak het deur die Springbok-haker Bongi Mbonambi van rassisme te beskuldig. Dit het gebeur nadat sy land in die halfeindronde teen die uiteindelike kampioen verloor het. Currie het die sokkerspan Manchester United se geriewe gebruik om hom te help herstel, insluitend ‘n trapmeul wat die uitwerking van swaartekrag verander.
# Fietsry: Die tweemalige verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard, hoop om betyds fiks te wees vir die Tour de France. Die Deen is ernstig beseer toe hy verlede maand geval het in die Baskiese Toer in Spanje. Hy sê hy kon uiteindelik weer buite fietsry. Die moordende tydren begin op 29 Junie in Florence, Italië, en eindig op 21 Julie in Nice aan die Franse Riviera – die eerste keer dat dit nie in die Franse hoofstad, Parys, klaarmaak nie weens die Olimpiese Spele.
# Motorsport: Die voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se geregtelike komitee, Jim Jordan, het ʼn ondersoek begin nadat Formule Een Andretti Cadillac se bod verwerp het om in 2025 of 2026 aan te sluit. Die bod onder leiding van die gewese McLaren-renjaer, Michael Andretti, is in Januarie van die hand gewys. F1, as houer van die sport se handelsregte, sê die teenwoordigheid van ʼn elfde span op die baan sal nie waarde toevoeg nie. Jordan vra antwoorde om seker te maak daar is geen onwettige, nie-mededingende gedrag ter sprake nie.
# En, laastens: Die Goue Bal-trefee wat die Argentynse sokkerlegende Diego Maradona in 1986 se Wêreldbekertoernooi verower het, gaan volgende maand opgeveil word. Die toekenning wat glo gesteel is, het in 2016 weer te voorskyn gekom uit ‘n privaat versameling wat in Parys opgeveil is. Maradona, wat in 2020 oorlede is, het die toekenning verower nadat hy Argentinië in Mexiko na ‘n Wêreldbeker-titel gelei en waartydens hy vyf doele aangeteken het. Dit is die eerste Goue Bal wat opgeveil word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….