Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 August 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die ervare veelsydige voorspeler, Deon Fourie, by die nasionale groep ingesluit vir die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks. Die 39-jarige Fourie wat sy plek as losvoorspeler en haker kan vol staan, het laas vir die Bokke uitgedraf in 2023 se Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland in Parys. Hy was weens beserings lank op die kantlyn, maar het verlede Vrydag geskitter in die Stormers se nederlaag van 38-21 teen die All Blacks in Kaapstad.
Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, moes intussen twee veranderings aanbring vir vanaand se kragmeting met die All Blacks op Kingspark in Durban. Die slot Emile van Heerden is beseer en die Springbok-voorspeler Vincent Tshituka het harsingskudding. Deon Slabbert vervang Van Heerden in die opdrafspan en Corné Rahl vir Tshituka op die bank. Pietersen verdedig die insluiting van die 44-jarige All Black-legende Ma’a Nonu, wat pas by die Haaie aangesluit het:
# Atletiek: Suid-Afrika het tiende geëindig in Wêreld-atletiek se Onder 20-kampioenskap in Eugene, Oregon, met agt medaljes: een goud, drie silwer en vier brons. Dis die land se grootste medalje-oes op die kampioenskap sedert die nasionale span in 2021 in Nairobi nege opgeraap het. Van die uitstaande prestasies is dié van Jan-Hendrik Heymans wat goud in spiesgooi gewen het, Tumi Ramokgopa wat silwer gebuit het in die vroue se 100- en 400-meter hekkies, en die mans se vier-maal-400-meter aflosspan waar hulle spog met silwer in ‘n nuwe Afrika-rekordtyd.
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sê hulle verwelkom die vryheid en verantwoordelikheid om op eie bodem in ‘n Wêreldbekertoernooi te speel. Suid-Afrika sal volgende jaar saam met Zimbabwe en Namibië die 14de eendag-Wêreldbekertoernooi aanbied. Die toernooi keer na 24 jaar terug na Afrika. Rabada het deelgeneem aan Suid-Afrika se twee mees onlangse eendag-Wêreldbeker-veldtogte in 2019 en 2023. Hy sê die span is vol vertroue na hul oorwinning oor Australië in verlede jaar se wêreldtoetskampioenskaps-eindstryd.
# En tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Iga Swiatek, is deur na die halfeindronde van die Kanadese Ope in Toronto. Die Pool het Diana Shnaider van Rusland binne 68 minute verslaan en speel volgende teen Elina Svitolina van Oekraïne. Svitolina het die Rus Ekaterina Alexandrova uitgeskakel en is deur na haar vierde WTA-een-duisend-halfeindstryd vanjaar. Intussen is twee van die mans-kwarteindstryde in Montreal gister weens reën uitgestel. Al vier die kwarteindstryde sal vandag plaasvind, die halfeindronde môre en die eindstryd Donderdag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….