Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het ‘n sterk groep van 37 spelers aangewys vir die eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië. Dit sluit 24 Wêreldbeker-wenners in en vyf spelers wat onlangs hulle toetsbuiging gemaak het. Hulle is Ethan Hooker, Asenathi Ntlabakanye, Boan Venter, Marnus van der Merwe en Cobus Wiese. Lukhanyo Am, Faf de Klerk, Makazole Mapimpi, Salmaan Moerat, Evan Roos, Neethling Fouché en Vincent Tshituka is op bystand. Die Springbokke en die Wallabies speel op 16 Augustus in Johannesburg en ‘n week later in Kaapstad.
Westelike Provinsie se hoofafrigter, Labeeb Levy, gaan intussen nie spelers in die Curriebekerkompetisie gebruik wat moontlike kandidate vir die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap is nie. Brok Harris, wat onlangs uitgetree het as stut van die Stormers, is WP se voorspeler-afrigter. Hy sê die VRK-spelers begin met voorbereiding vir die seisoen en die Curriebeker-span sal fokus op jong spelers en dalk spelers uit die uitgebreide amateur-groep oorweeg. WP speel Saterdag in die eerste ronde teen sy aartsvyand, die Bulle, in Kaapstad. Die eindstryd is op 20 September.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Banyana Banyana, het 2-1 teen teen Nigerië verloor in die halfeindronde van die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Rasheedat Ajibade het die Super Falcons in die eerste helfte met ʼn strafskop laat voorloop en Linda Motlhalo het die telling in die tweede helfte gelykop gemaak, maar Michelle Alozie het in bykomende tyd vir die wendoel gesorg. Nigerië en Marokko speel teen mekaar in die eindstryd. Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê sy is nogtans trots op haar span:
# Tennis: Die Brit Cameron Norrie het die tweede-gekeurde Lorenzo Musetti van Italië verslaan om die Washingtonse Ope se ronde van 16 te haal. Die 29-jarige Norrie pak nou die 14de gekeurde Amerikaner, Brandon Nakashima. Die Chinese kwalifiseerder, Wu Yibing, het die Fransman Gael Monfils geklop in sy eerste toervlak-sege sedert verlede jaar. Ben Shelton van Amerika het met sy landgenoot Mackenzie McDonald afgereken. In die vroue-afdeling het die 45-jarige Amerikaner, Venus Williams, haar landgenoot Peyton Stearns verslaan in haar eerste enkelspelwedstryd in 16-maande.
# En Olimpiese Spele: Katar toon belangstelling om die Somer- en Paralimpiese Spele in 2036 aan te bied. Die land se Olimpiese Komitee bespreek tans die verkiesingsproses met die Internasionale Olimpiese Komitee, en sê hulle wil die potensiaal van die Arabiese jeug op die wêreldverhoog tentoonstel nadat hulle in 2022 die Wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied het. Sky Sports berig dat die Golfnasie teengestaan kan word deur sy buurland, Saoedi-Arabië, wat die sokkertoernooi in 2034 aanbied, terwyl Indië ook moontlik kan belangstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….