Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het die Sportster van die Jaar-toekenning en die toekenning as gewildste sportster opgeraap op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings in Noordwes. Sy spanmaat Eben Etzebeth is aangewys as Sportman van die Jaar en Manie Libbok as Nuweling van die Jaar. Oud-Bok-afrigter Jacques Nienaber is as Afrigter van die Jaar bekroon en die Bokke is aangewys as Span van die Jaar. Ander wenners sluit in die seevaarder Kirsten Neuschäfer wat Sportvrou van die Jaar is en die naelloop- en verspringatleet, Mpumelelo Mhlongo, wat vanjaar die Gestremde Sportman-toekenning ontvang het.
# Atletiek: Suid-Afrika se vier-by-400-meter aflosspan het gekwalifiseer vir die Olimpiese Spele tydens die Wêreld-afloskampioenskap in die Bahamas, wat oorheers is deur Amerika. Die Verenigde State het vier uit die vyf goue medaljes gewen. Wayde van Niekerk het Suid-Afrika gehelp om silwer in hulle item te wen, saam met Gardeo Isaacs, Zakithi Nene en Lythe Pillay. Botswana het goud gekry nadat die Amerikaners gediskwalifiseer is, met België derde. Amerika het die mans 100-meter aflos, die vroue 100- en 400-meter, en die gemengde 400-meter gewen.
# Tennis: Andrey Rublev het siekte en besering oorkom op pad na die Madridse Ope-titel. Die Rus het Felix Auger-Aliassime van Kanada 4-6, 7-5, 7-5 verslaan om sy tweede Meesters 1 000-titel te verower. Die 26-jarige Rublev, wat ná vier nederlae in die Spaanse hoofstad aangekom het, sê hy gee volle krediet en erkenning aan die dokters wat dit vir hom moontlik gemaak het om te speel:
# Motorsport: Lando Norris van McLaren het die eerste oorwinning van sy Formule Een-loopbaan gebuit in die Miami Grand Prix. Die Brit het 25 rondes voor die einde die voortou geneem, ná ‘n kuipe-stop onder leiding van die veiligheidsmotor terwyl die ander reeds stilgehou het. Max Verstappen van Red Bull was tweede en Charles Leclerc van Ferrari derde. Die 24-jarige Norris, wat in sy sesde Formule Een-seisoen die meeste podiumplekke sonder ʼn oorwinning behaal het, sê hy is gelukkig om uiteindelik te wen:
# En, krieket: Sri Lanka en Skotland is die laaste twee spanne om te kwalifiseer vir die T20 Wêreldbekertoernooi vir vroue nadat hulle deurgedring het na die eindronde van die kwalifiseringstoernooi in Abu Dhabi. Sri Lanka het in die halfeindstryd ‘n oorwinning van 15-lopies behaal oor die Verenigde Arabiese Emirate. Skotland het Ierland met agt paaltjies geklop om vir hul eerste T20-Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Die toernooi word in Oktober in Bangladesj gehou, waar Australië na ‘n rekord sewende titel sal mik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….